Local newsSport

Hoërskool Nelspruit se goue Ashley doen dit weer!

Die Olimpiese Spele is nou volgende op Ashley se doenlysie na haar welslae by die Afrika Kampioenskappe.

Hoërskool Nelspruit se Ashley Erasmus is sedert haar laerskooldae af ‘n onmiskenbare naam op die atletiekradar.

Ná haar uitstekende prestasies vroeër die jaar by veelvuldige skolebyeenkomste, asook die nasionale kampioenskappe, is Ashley in die Suid-Afrikaanse o. 18- en 20-atletiekspan opgeneem, wat die land op 29 April tot 3 Mei by die Afrika Kampioenskappe in Zambië gaan verteenwoordig het. Ook hier het Ashley haar stempel met mening afgedruk deur met twee goue medaljes na Suid-Afrika terug te keer.

LEES OOK: Rikus Nel wins 2023 NKP Consultants Jock Open at Mbombela Golf Club.

Ashley het aan die gewigstoot- en diskusitems vir vroue onder 20 deelgeneem en het dié onderskeidelik met afstande van 16,11 m en 50,9 m gewen.


Hoewel dié twee afstande onder haar persoonlike bestes is wat sy verlede maand in Potchefstroom en Pietermaritzburg aangeteken het, is sy nogtans die Afrika-kampioen.

“Dit was regtig ‘n eer om vir my land te kon deelneem en hulle te verteenwoordig,” het Ashley na aanvang van die kampioenskappe aan Laevelder gesê. Sy voeg by dat sy deurentyd net haarself herinner het om elke stoot en gooi te geniet en nie dinge te veel te oordink nie.

LEES OOK: Lowveld’s dam levels increase after recent rain

Die 2024 Olimpiese Spele is volgende in Ashley se visier. “Ek gaan hard werk in hierdie af seisoen om vir die spele volgende jaar te kan kwalifiseer. My droom is om ‘n goue medalje daar te kan wen.”

Ashley sê dat al hierdie prestasies nie moontlik sou wees sonder haar ouers se motivering en ondersteuning nie. “Hulle is my grootste inspirasie,” het sy gesê.

Na vele ure se sessies in die gimnasium en op die veld om aan haar tegniek te werk, is dit duidelik dat hierdie jong ster stadig maar seker besig is om haar weg na sukses te baan.

Ashley en DP Badenhorst, ‘n onderwyser van NHS wat as diskus-afrigter vir die Suid-Afrikaanse opgetree het.

Back to top button