Osse en -waens kan geliefdes weer in Witrivier bymekaarbring

'n Hazyview-inwoner (90) maak osse en -waens om geld in te samel, sodat hy meer gereeld by sy vrou in Witrivier kan gaan kuier.

Vir ‘n paartjie wat reeds meer as 60 jaar getroud is, is dit ‘n aanpassing om van mekaar afgesonder te moet wees.

Om dié rede het Hannes Künz (90) van Hazyview besluit om sy stokperdjie, die maak van kleiwaens en -osse, vir ‘n ekstra inkomste in te span.

Hannes se vrou, Ina, is tans in ‘n sorgeenheid in Witrivier nadat sy onlangs ‘n beroerte gehad het; sy ly ook aan geheueverlies. Hy bly egter in Hazyview en kan op hierdie stadium net een maal per week by sy geliefde Ina besoek aflê.

Hannes se kleinkinders help hom met die verkoop van sy handewerk. Sy kleindogter, Elzane, vertel hoe haar oupa aan dié stokperdjie gekom het. “Van kleintyd af was osse en -waens die kinders se speelgoed waarmee hulle grootgeword het. Dit was vir die plaaskinders maklik om dit te maak, omdat dit iets was, wat tradisioneel eie aan hulle was. Toe oupa aftree, het hy besluit om dit weer as ‘n stokperdjie te maak as die dae net te lank geword het.”

LEES OOK: Tegnologie kan dié Laevelder help om weer gholfballe te moker

Weens die sorgeenheid se rekening asook die koste van brandstof, het hy besluit om sy werke te verkoop. “Oupa kry net pensioen en die medies is al reeds uitgeput,” sê Elzane.

Hannes en Ina is oorspronklik van Standerton af, maar woon al vir meer as 30 jaar in die Laeveld.

Hannes se osse en -waens, asook perdekarre kan by Elzane bestel word. Kontak haar by 074 846 9615. Vir enige navrae rakende pryse of hoe die produkte lyk, kan Elzane ook per e-pos geskakel word by elzane.barnard580@gmail.com.

Hulle het dit ook goedgedink om vir oupa ‘n BackaBuddy-blad, ‘Oupa kort hulp‘, te stig waar iemand ‘n skenking kan maak, sou hulle dalk nie van die items wil koop nie.

“Ons wil net namens die Künz-familie dankie sê aan die donasies wat reeds ingekom het,” sê Elzane.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version