Local news

Tegnologie kan dié Laevelder help om weer gholfballe te moker

Met behulp van 'n spesiale rolstoel hoop Meiring de Clercq om eendag weer een van sy gunstelingsportsoorte te beoefen.

Meiring de Clercq sou nooit kon voorspel dat sy lewenspaadjie só ‘n draai sou neem toe hy in Mei 2019 op sy padfiets klim vir ‘n 60 km-oefensessie op die N4 nie.
Die 33-jarige De Clercq is van die pad af gedwing deur ‘n minibustaxi wat hom in die agterkant van ‘n stilstaande vragmotor ingeslinger het.
‘n Gebreekte borsbeen, drie gebreekte ribbes en bloeding op die brein is net sommige van die beserings wat hy opgedoen het.

LEES OOK: Jy’s nooit te oud vir fietsry nie

Toe die dokter hom meedeel hy is verlam, was dit vir hom en sy gesin ‘n bitter pil om te sluk.
Maar vandag, net so ‘n bietjie meer as vier jaar ná die ongeluk, is De Clercq steeds dieselfde lewenslustige persoon wat hy was, met hernude vasbeslotenheid en ‘n nuwe uitkyk op die lewe.
“‘n Mens se lewe kan verander in ‘n oogwink, en jy moet elke geleentheid gebruik om jou lewe te verryk,” het hy gesê. “Die Here het jou op die aarde gesit nie om te kla oor jou omstandighede nie, maar om mekaar te herinner aan die mooi.”
De Clercq was van sy skooldae af ‘n kranige sportman en het onder meer in tennis, atletiek, rugby en gholf uitgeblink.

LEES OOK: Jimmy Stonehouse sends message of support to Paarl Boys High rugby player

Dit is juis die laasgenoemde wat nou weer op sy doenlysie is. Verlam ofte nie.
“Gholf was ‘n groot deel van my lewe, wat net ewe skielik van my weggevat is,” het De Clercq gesê.
‘n Rolstoel, spesifiek ontwerp vir parapleë, én soveel te meer, parapleë wat elke dan en wan ‘n ronde gholf geniet, is in Duitsland bekendgestel. “Met behulp van hierdie rolstoel sal ek uiteindelik weer aan gholftoere kan deelneem, en nie net van die kantlyn af kyk nie.”
Dié rolstoel stut die speler om die middel en by die knieë.
De Clercq het selfs genoem dat hy dié gespesialiseerde stoel kan gebruik om weer aan plaaslike en nasionale amateurgholftoernooie deel te neem.
“En ek wil graag myself opwerk om in die US Adaptive Open in Amerika te gaan deelneem.” Dié is ‘n nasionale kampioenskap wat die wêreld se beste gholfspelers met gestremdhede lok.

LEES OOK: Skitterende spel by 12de Danie Rossouw Rugbyweek

Gholf is ook iets waarvoor hy en sy pa, Lodie, ‘n liefde deel, en hy sien uit om dit weer saam met hom te kan speel. “Saam met my pa en my twee vriende, Luan Fourie en Sarel-Louis Wolfaardt.”
Die spesiale rolstoel span tegnologie in om parapleë te help om regop te kan staan. Dit stabiliseer hulle deur hulle by hul knieë en middel vas te hou sodat hul arms vrylik kan beweeg en hulle die gholfballe kan moker. Die rolstoel is nes ‘n gewone gholfkarretjie battery-aangedrewe en beskik oor spesiale wiele om op die setperke te kan ry.
Om fondse vir die rolstoel in te samel, het Meiring se familie en gholfvriende ‘n skarefinansieringsveldtog op Back-a-Buddy geloods, wat reeds meer as R80 000 vir sy teikenbedrag van R725 000 ingesamel het.
Intussen neem Meiring deel aan fietswedrenne en gaan hy ook saam op verskeie jagtogte.

LEES OOK: Flood damages in Mpumalanga now estimated at R2.3b

“Ek het ‘n Polaris-karretjie asook ‘n spesiale rolstoel omskep om elke jaar op verskeie jaggeleenthede saam te kan gaan,” het hy gesê, en bygevoeg dat hy ook aan sportskiet deelneem.
Meiring sê sy lewensuitkyk het vir seker verander, en hy moes op die harde manier leer dat ‘n mens soveel meer dinge kan aanpak, ongeag jou omstandighede.
“Maak gebruik van elke geleentheid. ‘n Mens weet nooit wanneer jy dit nie meer kan
doen nie!”

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button