Drama-drama by vanjaar se Innibos

Talle topklas-dramas wag vir kultuurentoesiaste by Innibos 2023.

Drama vier behoorlik die botoon by vanjaar se vars aanbieding van die Innibos Kunstefees.

Daar is van klassieke werke tot ligte klugte, en dié wat ‘n senuwee raakboor, maar ook laat lag.

Mirakel is ‘n klassieke teks deur Reza de Wet, en die stewige rolverdeling sluit in Dawid Minnaar, Bettie Kemp, Rolanda Marais, Edwin van der Walt, Carla Smith en Eben Genis. Die bekroonde teaterman, Marthinus Basson, behartig die regie.

Frank Opperman, akteur, en Dana Snyman, skrywer, het nou al bewys dat hulle drama kán skep wat soms tot op die been sny, maar ook altyd laat lag.

LEES OOK: Laevelder-vroue hou verrykende oggendtee vir KANSA

De Klerk Oelofse staan in die skoene van regisseur van Reünie, en almal wat al op ‘n skoolreünie was of gaan wees, sal die maters en swerkaters herken.

Sandra Prinsloo is eindelik in die Laeveld te siene in Kamphoer – die verhaal van Susan Nell nadat die teaterstuk reeds landswyd getoer het. Dié kragtige drama oor ‘n vrou se ontberinge in ‘n konsentrasiekamp tydens die Anglo-Boereoorlog is tydloos en het talle toekennings ingeryg ná vyfsterresensies en uitverkoopte vertonings. Dit is bekroon met ‘n kykNET Fiësta-toekenning en ‘n Naledi-prys vir die beste spel in ‘n solovertoning.

Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck, Ilne Fourie en Neels Coetzee is in Laerskool Noord, ‘n komedie oor ‘n skool met die leuse, “Kyk noord en stoot voort”. Hier is die personeelkamer egter ‘n tikkende tydbom tussen die uiteenlopende onnies, en die vraag is of die skoolhoof ooit sy afskeid gaan kry?

Die klug, My vrou se man se vrou, het in Engeland as Run for your Wife een van die langste speeltye in die West End. Frans Swart se jare lange ervaring en ‘n span jong akteurs gee vanjaar nuwe giggelglans aan dié stuk. En wie ken nie teen dié tyd die dwarstrekker, Hans, wat sake in die ouetehuis so kan omroer nie?

LEES OOK: Hoërskool Nelspruit se atlete maak naam vir hulself in KwaZulu-Natal, Gauteng

Die skrywer, Rudie van Rensburg, se gewilde karakter, oom Hans, is terug in Hans steek die Rubicon oor en Hans gee Herklaas horings, met Charlie Bouguenon as oom Hans.

Magda Louw klim van die kassie af tot op die verhoog vir die gelyknamige verhoogstuk. Desiré Gardner vertolk die soms moeilike Magda met hope deernis.

Moet ook nie Lizz Meiring se eenmanstuk, Van die rak af, misloop nie. Al gehoor van die human library in Skandinawië waar ‘n mens in die plek van ‘n boek as’t ware uitgeneem word? Die stuk is daarop gebaseer met ‘n interaktiewe element. Voor die aanvang van die vertoning ontvang die gehoor ‘n stembriefie met kriptiese leidrade. Dan kies die gehoor self watter van hierdie karakters hulle wil “uitneem” vir dié spesifieke opvoering.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version