Local news

Krokodilbyt naby Barberton skrik man nie van viswaters af nie

Fanie Fourie is op 26 Februarie deur 'n vier meter lange krokodil bygedam. Vrese dat sy arm amputeer moes word, was darem verniet.

Sodra hy uit die hospitaal ontslaan word, is lyn natmaak die eerste ding wat hy wil gaan doen. Maar beslis nie sommer weer by die dam waar ‘n reusekrokodil hom amper bokveld toe gestuur het nie.

So gesels Fanie Fourie (45) vanuit sy bed in Rob Ferreira Hospitaal nadat hy onlangs om sy lewe moes veg toe hy deur ‘n vier meter lange krokodil aan die arm beetgekry is en die reptiel hom die water ingesleep het. “Op hierdie stadium is ek nie bereid om daai ding weer in die oë te kyk nie. Net so kwaad as wat ek vir hom is, neem ek hom nie kwalik vir die aanval nie. Hy doen maar net waarvoor hy geskep is, om vleis te vreet. Maar net nie weer myne nie!”

LEES OOK: Sixteen individuals and three pharmacies appear in Nelspruit District Court for fraud

Aanvanklike vrese dat die skade aan sy regterarm so erg was dat hy die gebruik daarvan sou verloor, of dat dit dalk selfs geamputeer moes word, was verniet. “Die dokters het ‘n wonderwerk in die teater verrig en my arm gered,” sê Fourie.

Was dit nie vir die vinnige optrede van sy boesemvriend, Jerry Visagie, nie, kon hy vandag waarskynlik dood gewees het.

Voorverlede Sondagmiddag, 26 Februarie, het Fourie en Visagie by ‘n dam in die Snymansbult-omgewing gaan visvang. Kort nadat hulle daar opgedaag het, het hulle rondgekyk op soek na die krokodil, omdat hulle geweet het daar was een in die dam. Hulle het hom aan die oorkantste wal opgemerk.

LEES OOK: Mbombela-basaar ‘n lekker affêre vir oud en jonk

Fourie het twee lyne in die water ingegooi en ‘n dobbertjie aangesit, en was besig om sy hande in die vlak water te was toe die krokodil skielik toeslaan. Dié het Fourie aan die regterarm beetgekry en hom onder die water ingesleep.

Visagie het een van die skerp visvangpenne gegryp, die water binnegestorm en die reptiel op die kop gesteek. Die krokodil het egter bly vasklou.

Visagie het Fourie aan die hemp beetgekry en hom met die krokodil agterna in die vlak water in uitgesleep. Nadat Visagie die krokodil weer in die gesig en oë geslaan het, het hy laat los.

LEES OOK: Train catches fire in Ngodwana

“Hy het nog twee keer na my gehap, maar dit was gelukkig mis,” het Fourie vroeër gesê.

Visagie het ‘n hemp om die wond aan Fourie se arm gedraai en met hom hospitaal toe gejaag.

Fourie het tydens die aanval ook bytmerke aan sy regterbobeen en maag opgedoen en twee vingerpunte aan sy linkerhand is afgebyt. Die vingers is later tydens ‘n operasie geamputeer. “Die Here is besig om wonderwerke met my te doen,” het Fourie Dinsdag aan Laevelder gesê.

LEES OOK: Two police officials shot dead in Mbombela

Saterdag het sy been geweldig gepyn, aangesien hy infeksie opgedoen het. Hy is later die dag weer vir ‘n vier uur lange operasie teater toe, waartydens die wonde skoongemaak is.

Volgens hom is die dokter baie tevrede met sy herstel. “Die arm herstel verbasend goed en daar is nou al selfs rofies besig om op die geamputeerde vingers te vorm. Ek gaan nog lank hier lê. Maar sodra ek uit is, gaan ek beslis weer visvang.”

Back to top button