Local newsNews

Rukwinde veroorsaak groot stormskade op Lydenburg

Grootskaalse stormskade is Maandag 20 Februarie aangerig nadat rukwinde die dorp getref het.

Die stormwinde het omstreeks 18:00 begin om verwoesting dwarsoor die dorp te saai en die lug het binne sekondes bykans pikdonker geword. Daarna het dit vir die res van die aand gereën. Teen 20:00 het van die inwoners foto’s en video’s op sosiale media versprei.

Verskeie vrywilligers en buurtwagte het bome opgesaag waar dit paaie, soos Morganstraat, versper het.
Nooddienste en vrywilligers het tot bykans middernag gespook om die paaie rybaar te maak vir diegene wat reeds 04:00 myne toe moes ry.

Dakke is afgewaai, plafonne het ineengestort en tientalle baksteen- en betonmure het omgeval. Geen beserings is egter aangemeld nie.
Die skade was veral erg langs die Dullstroom-pad waar talle bome ontwortel is; plaashuise se dakke is ook gedeeltelik afgewaai. Verder was daar ligte skade aan huise en geboue op die dorp.

Lees ook: Steelburger News 23 February 2023

Die Thaba Chweu Plaaslike Owerheid het gesê hulle beskou dit as ‘n rampsituasie.
Die munisipaliteit het Dinsdag begin om kragkabels te herstel wat uit pale geruk is. Teen Dinsdagmiddag het die dorp steeds nie water gehad nie.

Foto’s verskaf.

Die Suid-Afrikaanse weerdiens het aan Steelburger/Lydenburg Nuus gesê dat die storm nie verband hou met die tropiese sikloon, bekend as Freddy, nie. Die weerdiens het waarskuwings vir erge donderstorms, swaar reën en moontlike groot haelstene wat steeds hierdie week moontlike verdere skade kan aanrig, uitgereik.

Back to top button