Sommige Mbombela-wonderwerke word tuis voorberei

Dié paartjie gesels oor hul tuisgemaakte "wonderwerkie" wat in April gebore is. Kunsmatige inseminasie het hul droom verwesenlik, en hulle wil ander paartjies hoop gee.

Tuisgemaak is altyd lekkerder!

So spot Jessica en Richenda Lourens-Kruger tong in die kies terwyl hulle hul sewe maande oue “wonderwerkie” vertroetel.

‘n Jare lange droom van die twee, wat al drie jaar ‘n getroude paartjie is, om hulle eie “persoonlike” baba te hê, is op 26 April verwesenlik toe hulle Hazelee in die wêreld verwelkom het.

“Ons het baie lank hieroor gedroom, gewonder, gekoukus, raad gevra en alle denkbare moontlikhede oorweeg.

“Daar was aanvanklik die idee om ‘n baba aan te neem, maar uiteindelik het ons besluit dat kunsmatige inseminasie ons voorkeuropsie was,” vertel Jessica.

En dit is hier waar die twee se wonderwerkreis deur die wêreld van swangerskap en baba hê begin het.

Hul dokter het hul besluit ondersteun, maar het hulle ook deeglik voorberei vir alles wat reg of verkeerd kon gaan.

Omdat die prosedure hulle ‘n aardige bedrag uit die sak gejaag het, en hulle nie mediese fonds het nie, moes ‘n ander plan gemaak word.

Wat die uitdaging vir hulle soveel meer uniek gemaak het, is toe hulle besluit het om dit sommer tuis te doen met geleende sperm en ‘n steriele koppie.

LEES OOK: Bergland-leerders en -personeel neem afskeid van geliefde skoolhoof

Die dokter het ook gewaarsku daar was maar net ‘n sowat 20% kans dat hulle inseminasiepoging suksesvol sou wees.

“Ter voorbereiding vir die groot poging het ek vir weke lank my ovulasie fyn dopgehou,” sê Richenda. Sy moes ook foliensuur neem wat deur die dokter voorgeskryf is om defekte wat kon voorkom, teen te werk.

Richenda sê foliensuur is veral belangrik vir die baba se ontwikkeling gedurende die vroeë stadium van swangerskap. Dit help om die neurale buis te vorm.

Neuralebuisdefekte is geboortedefekte (of aangebore toestande) wat veral probleme skep met die ontwikkeling van die brein (anenfalie) en rugmurg (spina bifida).

Maar hoe het hulle te werk gegaan om die saadjie te plant?

“I made her from scratch,” spog Jessica.

“Ek het dit self gedoen! Ek het haar self in Richenda se baarmoeder gesit met ‘n steriele inspuiting! En met God se hulp was dit vir ons twee moontlik om Hazelee, ‘n blakende gesonde baba, te kon verwelkom. Daarom is sy ons wonderwerk. Met net ‘n 10% tot 20% kans op sukses, was dit ‘n wonderlike ervaring. En natuurlik was die geluk ook aan ons kant, want die donasie spermpies was awesome sterk swemmers!”

“Ek en Jessica het elke week getoets om te kyk of ek swanger is; met net ‘n 20% kans was ek nie vreeslik positief daaroor nie,” vertel Richenda.

LEES OOK: SANBS asks: Be the reason someone is home for the holidays

“Toe gaan ek eendag na haar werk toe met ‘n swangerskaptoets wat wys pregnant! Ek kan nie ons opgewondenheid verduidelik nie!

“Ons wil nou baie graag ander mense help wat hulle in dieselfde situasie as ons bevind het. Daar is meer mense as wat ‘n mens kan raai, veral in die gay gemeenskap, wat swanger wil word,” sê Richenda. “Die grootste probleem vir sulke paartjies is dat hulle nie weet hoe nie. En daarom is ons hier (op TikTok – kruger_lourens_family) om te help waar ons kan.

“Dit is eintlik ‘n maklike prosedure. Dit moet net reg gedoen word. Luister na jou lyf. En enigiets is moontlik,” sê Richenda.

“Al die eer kom Hom toe om ons met so ‘n pragtige babadogtertjie te seën!”

Exit mobile version