Gesinsgeweldseenhede in Mpumalanga moet voorkeur geniet met nuwe polisievoertuie, sê politieke party

Dié politieke party sê hy vra al sedert 2021 dat polisie-eenhede vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe se voertuigtekort reggestel moet word.

‘n VF Plus-mosie om nuwe polisievoertuie vir Mpumalanga se polisie-eenhede vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe, te prioritiseer, is in die wetgewer aanvaar.

Dié eenhede van veral Mbombela, Ermelo, Acornhoek en Middelburg se werksaamhede word ernstig gekniehalter deur ‘n tekort aan voertuie, sê die party.

“Die Mbombela-eenheid, wat al verskeie kere as die beste in die provinsie aangewys is, het van die begin van 2022 slegs twee voertuie om vyf dorpe te bedien. Die eenheid moet tans met slegs een voertuig in vyf dorpe sake ondersoek, aangesien die tweede voertuig meganiese probleme het,” het die VF Plus in ‘n onlangse verklaring gesê.

LEES OOK: Malalane-seun raak harte met mooi gebaar

Die party sê die LUR vir gemeenskapsveiligheid, Vusi Shongwe, het bevestig dat ‘n begroting van R99 miljoen vir nuwe polisievoertuie vir die 2022/23 finansiële jaar goedgekeur is.

Die proses om nuwe polisievoertuie aan Mpumalanga te verskaf het reeds begin. Die nuwe voertuie sal aan polisiekantore verskaf word sodra dit beskikbaar is.

Die VF Plus het in sy mosie versoek dat bogenoemde eenhede voorkeur moet geniet aangaande die nuwe voertuie.

Die premier van Mpumalanga, Refilwe Mtshweni-Tsipane, het verlede jaar in haar provinsiale openingsrede beloof om veral geweld teen kinders en vroue te beveg.

“Tog het die eenheid wat dit die nodigste het, al vir byna twee jaar nie die nodige toerusting om dit te doen nie.”

Die VF Plus vra al sedert 2021 dat dié spesialiseenhede se voertuigtekort reggestel moet word.

Die VF Plus sê hy sal sy waghondfunksie aanhou vervul tot voordeel van alle inwoners, asook hul reg om in ‘n veilige omgewing te leef en werk.

Exit mobile version