Local news

Barberton-polisieman bied skilpad tweede kans op oorlewing

'n Sagter kant van dié polisieman het onlangs deurgeslaan toe hy tydens 'n klopjag in die Barberton-gebied tot 'n skilpad se redding gekom het.

Die hart van ‘n geharde polisieman sit nie net daarin om skelms te vang nie.

Soms kom daar iets onverwags oor sy pad wat ‘n heel ander sy van hom blootstel.

Dit is wat onlangs met AO Jaco Smit, ‘n speurder van Barberton, gebeur het tydens ‘n klopjag op ‘n plakkerskamp naby die Agnes-myn.

AO Jaco Smit.

Terwyl sy kollegas besig was om ‘n perseel te deursoek, het hy in die erf rondgesnuffel op soek na leidrade. In die agterplaas het hy op ‘n skilpad afgekom.

LEES OOK: Nartjiefees neem Ohrigstad op horings

“Die arme ding was met ‘n stuk bloudraad aan ‘n boomtak vasgemaak. Wie ook al die dier aangehou het, het ‘n gat deur sy dop gemaak en die draad daaraan vasgemaak,” het Smit gesê.

Die gat wat deur die skilpad se dop gemaak is om draad daaraan vas te maak.

Hy het die skilpad losgemaak en agter op die polisiebakkie gesit. Die reptiel was feitlik dood van die dors en het amper 500 ml water uit sy hand gedrink.

“Hy is sonder enige water of kos daar aangehou.”

Ten spyte van sy ontberings en die haglike omstandighede waarin hy aangehou is, was die skilpad nie beseer nie, het Smit gesê. Die gat wat deur die dop geboor is, het nie die reptiel beseer nie.

LEES OOK: Snakebite in Marloth Park lands man in hospital

Smit het teen ‘n bergpaadjie opgery en naby die bekende baken, die Tequan-poele, die skilpad vrygelaat.

“Die arme ding het gulsig aan die groen gras begin vreet. Hy was dood van die honger,” het Smit gesê.

“Ek is seker daarvan dat die skilpad nou ‘n lang en gelukkige lewe gaan lei.”

Back to top button