Gesoek: Metgeselle om tweetjies na troue te vergesel

Is jy en jou tjommie dalk boerseunpartytjiediere uit die BBM- en Mxit-era met blatjang in julle braaibroodjieresep? Julle maak dalk die ideale metgeselle vir dié twee vriendinne.

Wat begin het as ‘n grappie tussen twee vriendinne het vinnig-vinnig in ‘n volskaalse Facebook-soeke na metgeselle ontaard.

Marunelle Hitge (27) van Mbombela en Janke Mulder (26) van Pretoria benodig metgeselle vir hul vriendin se troue aan die einde van November.

Tydens hul weeklikse opvangsessie Maandag het die twee eintlik gespot oor ‘n “Facebook-advertensie” vir dié twee vakante poste, en kort voor lank is ‘n skootrekenaar nader getrek en ‘n pamflet ontwerp.

Marunelle Hitge en Janke Mulder.

Nou, meer as 100 Facebook-deelbeurte later, het dié einste pamflet soos ‘n veldbrand onder vriende wat dit versprei, en ander wat hul enkellopende vriende se name in die hoed gooi.

“Ons het die ouderdom bereik waar ál ons vriende trou, en as enkellopende meisies moet ons ons eie metgeselle reël. Die meeste van ons mansvriende is ook reeds getroud of in ernstige verhoudings. Toe besluit ons om groot te gaan. Dalk op dié manier ontmoet ons jong hubare manne wat in die klein dorpies wegkruip,” sê die twee.

LEES OOK: Innibos Teaterweek bring komedie en oopkopdrama na die Laeveld

Alhoewel die kandidate se huwelikstatus volgens die pamflet “ongetroud en onbetrokke” moet wees, is die twee vriendinne nou nie noodwendig op soek na hul troumanne nie.

Hulle het besluit om ‘n vraelys op te stel om die koring van die kaf te skei.

“Die meeste van die vrae is opgestel met die doel om vir ons ‘n goeie idee te gee van iemand se persoonlikheid. Ons neem onsself nie te ernstig op nie en daarom is dit vir ons belangrik dat ons metgeselle ook spontaan is; dis ook maar net ‘n afspraak vir ‘n troue.”

Die basiese vereistes is eenvoudig: ‘n partytjiedier wat van dans hou en uit die BBM- en Mxit-era afkomstig is.

LEES OOK: M-Care toe vir Hoërskool Nelspruit se Johvan ná ongeluk

Hulle sê hulle is uit die veld geslaan met die oorweldigende reaksie binne een dag – die pamflet en meegaande vrae is Dinsdag gedeel, en teen Woensdagoggend is die plasing reeds 123 keer gedeel.

Die bruid en bruidegom is glo ook heeltemal te vinde vir die idee.

“Ons is goeie vriendinne met die bruid. Sy en haar verloofde verslind saam met ons al die aansoekvorms en kommentaar op Facebook.”

Die plasing doen só goed, hulle spot en sê Koer (‘n Afrikaanse maatsoektoep) kan hulle dalk net binnekort uitkontrakteer.

“Daar is beslis oulike aansoeke. As ons geweet het daar is soveel goeie jong mans daar buite, het ons dit al lankal gedoen!”

Die twee wat aansoek doen moet verkieslik bevriend wees, sê hulle. Hulle reken wie dan wie se metgesel gaan wees is ‘n goeie vraag…

“Ons het ook hieroor gewonder,” lag hulle. “Die idee hier is nie noodwendig om potensiële kêrels uit te snuffel nie, maar eerder om twee vriende te kry wat saam met ons lekker in ‘n groep kan kuier.”

Potensiële kandidate moet onder andere hulle beste optellyne gee, sê of hulle bier- of brandewynmanne is (alhoewel die dames self ‘n jenewer en tonikum geniet), sê of hulle kan sokkie, en ook vir die interessantheid, watter liedjie tans nommer een op hulle speellys is.

Een van die die beste optellyne tot dusver is: “Is jy ‘n rooibloedsel? Want my hart het jou nodig.”

Dié twee boeremeisies is albei ekstroverte wat daarvan hou om die beste van enige sosiale geleentheid te maak. Hulle reken belangstellende mans kan uitsien na ‘n onvergeetlike afspraak wanneer hulle gaan dans tot hulle voete seer is, lag tot hulle wange pyn en partytjie hou tot die son opkom.

Die afsnydatum vir aansoeke is 16 September, sodat hulle darem sal kans hê om die manne te ontmoet voor ‘n finale besluit geneem word.

Exit mobile version