Innibos Teaterweek bring komedie en oopkopdrama na die Laeveld

Hou jou 1, 2 en 3 September oop vir dié teaterstukke wat Innibos in Mbombela aanbied.

Innibos se Teaterweek skop binnekort af met ‘n komedie en ‘n drama waaroor daar nog lank nagedink gaan word.

Die twee teaterstukke is van 1 tot 3 September in die Mbombela Stadsteater te sien. Oudword is nie vir sissies nie, soos die geliefde karakter, Hans, in die skrywer Rudie van Rensburg se topverkoper, Hans steek die Rubicon oor, lesers en radioluisteraars reeds oortuig het. Nóú kom haal Hans sy streke in dié verwerking op die verhoog uit.

Die teks is verwerk deur Francois Toerien, en Lizz Meiring behartig die regie. Akteur Charlie Bouguenon trek nie net Hans se skoene aan nie, maar ook 15 ander karakters s’n. Hans en sy trawante is miskien oud, maar nog lank nie koud nie. Hulle is reg vir rebellie teen Huis Madelief, die kinders wat die septer van ver oor die water oor sy lewe wil swaai, en sommer net alles wat sy onblusbare gees wil kniehalter.

LEES OOK: Hugo Greyling se lewe by Nelspruit Rugbyklub gevier

Sy pogings om te ontsnap word telkens deur onder andere ‘n drakoniese matrone in die wiele gery, terwyl Hans die een plan ná die ander smee.
Bouguenon sê van die grootste uitdagings in dié stuk is om die ellelange dialoog onder die knie te kry en om sommer “jare der jare” te moes verouder om die rol van die bejaarde Hans te speel. Kyk uit vir ‘n onderhoud met Bouguenon in volgende week se Laevelder.

Ruan Wessels. > Foto: Verskaf

Die produksiehuis is Leftfoot Theatre Productions met die ondersteuning van die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief. Vertonings vir Hans steek die Rubicon oor is op Donderdag, 1 September, om 18:00, Vrydag, 2 September, om 20:00, en Saterdag, 3 September, om 10:00. Kaartjies kos R150 en is op Quicket te koop.

Die tweede toneelstuk sorg vir afwisseling van Hans en sy komiese streke. ‘n Soeke na liefde is die deurlopende tema van die draaiboek, Plesierengel, uit die pen van Leon van Nierop. Die hoofkarakter se soektog loop weens tragiese omstandighede ‘n onkonvensionele en omstrede roete – hy laat vroue swymel en word die hoogsbetaalde gigolo in die land. Tog behels die emosionele onderstroom soveel meer as wat op die oog blyk.

LEES OOK: Dinamiese Leandie du Randt sprankel op Lydenburg

Die akteur, Ruan Wessels, vertolk die rol van Tristan, wie se verhaal, aldus Van Nierop, op die waarheid gebaseer is. Hoewel die tema van die stuk oor onder meer bedsake handel, word dit ook met heelwat humor aangebied en is dit nie eksplisiet nie – daar is wel ‘n ouderdomsbeperking van 16.

Tristan se grootwordjare was liefdeloos en traumaties, en onderliggend aan sy gigoloskap lê die eeue oue behoefte aan aanvaarding in ‘n liefdevolle omgewing. Vanselfsprekend is dit juis die ironie in dié stelling wat ook in die drama ondersoek word. Bowenal is dit die menslikheid, en om sin van die lewe te maak, wat die botoon voer.

Charlie Bouguenon. > Foto: Verskaf

Wessels is bekend vir sy rolle in onder meer Binnelanders, Erfsondes, Dis ek, Anna en die teaterklug Wie hyg so? Van Nierop het die teks tot draaiboek verwerk en die regie is deur Lihan Pretorius en Johan van der Merwe behartig. Na afloop van die produksie se speelvak in Centurion, het Van Nierop Leftfoot Theatre Productions geloof vir die wyse waarop hulle met die moeilike tema omgegaan het.

Vertoontye vir dié stuk is Vrydag, 2 September, om 17:00, en Saterdag, 3 September, om 15:00. Kaartjies is ook op Quicket beskikbaar en kos R150.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

Exit mobile version