Innibos Teaterweek skop eersdaags af

Einde Augustus is 'n tyd vir teaterliefhebbers - dán begin Innibos se teaterweek.

Innibos bied hierdie jaar ‘n verskeidenheid opwindende projekte onder die oorkoepelende tema van “Heeltyd feestyd” aan. Een daarvan is die Innibos Teaterweek wat vanaf 31 Augustus tot 3 September in die Mbombela Stadsteater aangebied gaan word.

Rudie van Rensburg se topverkoperboek Hans steek die Rubicon oor was baie gewild toe dit deur Tobie Cronjé op RSG voorgelees is. Hierdie is so ‘n besonderse goedvoelboek (Van Rensburg noem dit sy asemskepboek) dat daar volgende jaar ‘n rolprent daaroor gaan verskyn. Maar voordat hierdie film die grootskerms tref, kan jy dit by die Innibos Teaterweek op die planke sien.

LEES OOK: Laeveld-kunstenaar stel nuwe boek bekend

Hierdie komedie, wat deur Francois Toerien verwerk is, beloof om ‘n glimlag op teatergangers se gesigte te sit. Lizz Meiring is ‘n kenner van komedie en sit stewig in die regisseurstoel. Die talentvolle Charlie Bouguenon is in die naamrol.

“Die storie handel oor ‘n 90-jarige man (Hans) wat deur sy verloopte kinders (wat almal in die buiteland bly) gedwing word om ouetehuis toe te gaan,” het Van Rensburg aan Litnet vertel.

“Hy is nie daarvoor lus of gereed nie. Sodra hy met die drakoniese bestuur van die plek te make kry, word hy ‘n rebel en aktivis, ‘n oom wat niks het om te verloor deur in opstand te kom nie. Hy word die matrone se grootste nagmerrie: ‘n ou man wat vir homself kan dink en tot aksie oorgaan.”

LEES OOK: Tou opgooi is nie ‘n opsie vir dié Laeveldse inwoner nie

Vinnig is daar groot konsternasie in die tehuis. Hans se vele, en soms verdagte, nuwe vriende sorg vir groot pret en heelwat moeilikheid. Van daggakoekies en ‘n boeremafia tot ontkleedansers en protesaksies, word Huis Madeliefie en sy inwoners onderstebo gekeer.

Hans se storie is ‘n storie van ons tyd.

Sy omstandighede is dié van vele ouer Suid-Afrikaners wie se kinders die land verlaat het.

Die produksie word deur die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief ondersteun en Cornelia Faasen, die hoof- uitvoerende beampte, het gesê Hans steek die Rubicon oor behoort as eenmanstuk uitstekende vermaak te bied en ‘n heerlik komiese perspektief op oudword te verskaf.

Om te skaterlag is net wat ons nodig het noudat die inperkings gelig is. Vermaak in sy suiwerste vorm.

‘n Ander eenmanstuk wat ook tydens hierdie Innibos Teaterweek gesien kan word, is Leon van Nierop se Plesierengel met Ruan Wessels in die naamrol.

Kaartjies vir beide hierdie stukke is by Quicket te koop. Vir meer inligting, besoek Innibos se webtuiste by www.innibos.co.za.

Exit mobile version