Laeveld-kunstenaar stel nuwe boek bekend

Besoek Ilona Petzer op Saterdag, 30 Julie, op die Friedenheim-plaas vir die bekendstelling van haar nuwe boek.

Ilona Petzer, ‘n geliefde en bekende plaaslike beeldende kunstenaar, stel hierdie naweek haar pas gepubliseerde boek, Hartskos in die bos/Straatwys in Parys, saam met Innibos bekend.

Die bekendstelling is Saterdag, 30 Julie, om 14:30 by die Damhuis Kutsaga op die Friedenheim-plaas. Die ingang na die plaas (GPS: 25,4355750, 30,9900240) is langs die Mpumalanga Universiteit.

“Die twee afdelings van die boek kan dalk soos ‘n vreemde paradoks klink,” skryf Petzer in die voorwoord. “Dit is egter die twee wêrelde waartussen ek telkemale in verwondering beweeg.”

LEES OOK: Nuwe jukskeiklub op Marlothpark gaan van krag tot krag

Enersyds is haar liefde vir die bosveld en alles wat daarmee gepaard gaan. Andersyds is dit die verblyftye wat sy in Parys, Frankryk, in die Cité Internationale Des Artes deurgebring het. In die boek vind hierdie twee wêrelde neerslag in onder meer kort essays en gedigte, toegelig met van Petzer se eie en ander kunstenaars se werke.

Die skrywe is tegelyk intiem en verruimend, en in die uiteenlopende temas is die gemene deler dikwels een van groot dankbaarheid.

Om die bekendstelling by te woon, RSVP by Annemarie van der Walt van Innibos by 083 289 3823 of by Petzer by 082 893 6718.

Exit mobile version