Local newsNews

‘n Musikale naweek saam met Innibos by Christie’s @ 32 on Russell

Op 20 Augustus gaan daar in Mbombela waarlik 'n musiekbederf wees met name soos Niël Rademan, Elna van der Merwe en Lynelle Kenned.

Van Brel tot luisterryke uittreksels uit geliefde West End-produksies gaan tydens die tweede Innibos-aanbieding van Klassiek@Christie’s op Saterdag, 20 Augustus, die winterkoue die nek inslaan. Niël Rademan gaan die oggend in Brunch with Brel die verskillende nuanses van onder andere Danie Bosman en Jacques Brel se musiek na vore bring. Dit is ‘n nostalgiese musiekproduksie gestroop van alle pretensie.

Rademan, ook ‘n vaardige trekklavierspeler, span kragte met die Bolandse klaviervirtuoos Elna van der Merwe saam om ‘n tikkie ou Europa na die Laeveld toe te bring. Saterdagaand is dié duo weer in die kollig tesame met sopraan Lynelle Kenned in Musical Moments. Dit is ‘n opvoering met grepe uit van die mees geliefde musiekblyspele van West End, onder meer Phantom of the Opera, Les Misérables, The Sound of Music en West Side Story.

Elna van der Merwe. > Foto: Verskaf

Rademan is ‘n veelsydige bariton en teaterpraktisyn wat reeds verskeie benoemings en toekennings gekry het vir onder meer die musikale verwerking en regie van verskeie ligte klassieke vertonings. Van der Merwe het haar doktorsgraad in musiek aan die Universiteit van Stellenbosch behaal en is bekend as begeleier vir verskeie solokunstenaars.

Lynelle Kenned. > Foto: Verskaf

Kenned, ‘n oudstudent van die Operaskool van die Universiteit van Kaapstad, is al met die Naledi-, Fiësta- en Fleur de Cap-toekennings as operasanger bekroon. Die vertonings vind op Saterdag, 20 Augustus, by Christie’s @ 32 on Russell plaas. Brunch with Brel is om 10:30 en kos R230. Musical Moments is die aand om 18:30 en kos R285.

LEES OOK: Meesterklasse vir deelnemers van eisteddfod eersdaags in Mbombela aangebied

Die kaartjies is by Quicket beskikbaar en sluit ‘n ligte ete in. Daar sal ook ‘n kontantkroeg wees.

Classics @ Christies – BRUNCH MET BREL en ‘n paar Pêlle

Classics @ Christies – Musical Moments

Back to top button