Drie kom tot Mbombela man en poedel se redding ná hond aanval

Cobus Tomlinson en sy miniatuurpoedel, Daisy, was onlangs die slagoffers van 'n hondeaanval in Van Wijkstraat.

Ongeveer twee maande na ‘n hondeaanval in Liebenbergstraat, het nóg ‘n man dieselfde oorgekom, dié keer in Van Wijkstraat.

Cobus Tomlinson het op 30 Junie met sy miniatuurpoedel, Daisy, in dié straat gaan stap toe ‘n groter hond die poedel aangeval het.

In die vorige voorval het ‘n vrou en haar ma met hulle vier honde gaan stap en een in ‘n aanval verloor. Tomlinson was gelukkiger – Daisy het steke gekry, maar gelukkig die voorval oorleef. Hy het self ook geval en sy rug beseer, maar darem geen ander beserings opgedoen nie.

Tomlinson sê as dit nie vir die drie engeltjies is wat ingegryp het nie, kon dit baie anders uitgedraai het, en hy is ongelooflik dankbaar vir almal se hulp.

Hy het met Daisy verby ‘n huis gestap toe die hek oopgaan en die hond in die erf uithardloop en vir Daisy aanval. “Die hond het haar aan die nek gegryp en rondgeruk,” sê Tomlinson.

LEES OOK: Rottweilers val vroue, honde in Liebenbergstraat aan

Twee werknemers van Van Wijkstraat Dierehospitaal, Christine Janse van Rensburg en Kayla Hugo, het die voorval gesien, hulle voertuig daar parkeer, noodligte aangeskakel en die hond verjaag. Die derde engel, Marga Nel, het agter Daisy, wat die pad gevat het sodra die hond haar laat los het, aangehardloop.

Daarna is Daisy veearts toe, waar hulle mooi na haar omgesien het.

Tomlinson sê die eienaar van die hond het gelukkig vir Daisy se veeartsonkostes en ook vir sy besoek aan die chiropraktisyn betaal.

Hy sê sy is baie getraumatiseer. “Sy is nou so bang as honde begin blaf.

“Ek verstaan mense het honde nodig. My kwessie is honde-eienaars wat nie verstaan dat hulle beskermers mense en hulle honde aan leibande in die straat aanval en beseer nie.

“Dis algemeen in Nelspruit. Die mense kom aangery na hulle huise en druk net die afstandbeheer sonder om te dink en te kyk of daar voetgangers naby is. Dan storm die opgewerkte honde uit en val net aan; hulle eerste fokus is die troeteldiere.”

LEES OOK: AfriForum Nelspruit-tak staan Grace Baby Haven met skenking by

Hy sê hy wil nie name noem of adresse gee nie; dit is ‘n gemeenskapsprobleem en almal moet hande vat.

“Die eerste stap sal wees as die honde-eienaars ook met húlle honde in die straat stap en die reaksie van ander honde waarneem. Dit sal hulle hopelik tot ander insigte bring.”

Exit mobile version