Local newsNews

Gesoek: familie aan wie optel-Bybel behoort

Van die vanne wat in hierdie optel-Familiebybel verskyn, is Pieterse, Lewis, Cilliers, Venter, Ryan, Steyn en Grobler. Ken jy dalk van hierdie mense?

‘n Familiebybel uit die 1950’s het sy pad van ‘n Meyerton-ashoop af tot in die Laeveld gevind, en nou is ‘n vrou op soek na sy eienaars. Annatjie Venter en haar familie het ongeveer 14 jaar gelede die Bybel opgetel, maar tussen ‘n getrekkery deur, het dit in ‘n boks beland. Sowat twee maande gelede het hulle hom aan ‘n vriendin, Tersia Pretorius, oorhandig, wat dit op haarself geneem het om die familie te probeer opspoor.

Heel voor in die Familiebybel is ‘n inskrywing van Pieter aan sy ouers.

Pretorius heg self baie waarde aan haar eie Bybel wat sy by haar ma gekry het. Sy wil dit graag eendag aan haar dogter gee en daarom wil sy graag hê dié een moet ook weer sy regte huis kry. Dié groot ou Bybel (33 cm x 21 cm) was ‘n Kersgeskenk vanaf Pieter Jacobus aan sy ouers, Bartel Willhelmus en Susanna Catharina Magdalena (voorheen Greyling) in 1957.

LEES OOK: Vier Komatipoorters woon SA Tweekamp by byTweekampbyeenkoms in Gqeberha

Die manier waarop die name aangeteken is, maak dit effens onduidelik watter vanne aan wie behoort, maar vanne wat deur die jare verskyn sluit in Pieterse, Lewis, Cilliers, Venter, Ryan, Steyn en Grobler.

Tersia Pretorius met die Familiebybel wat op ‘n ashoop gevind is.

Inskrywings begin by voorouers, gaan oor na ouers, belangrike gebeurtenisse en dan na kinders en die huwelike wat hulle betree. Die kinders is gebore in Volksrust, Germiston en Wakkerstroom tussen die jare 1937 en 1957. Daarna volg die kleinkinders en verdere belangrike gebeurtenisse in die familie se geskiedenis. Laastens, voor Genesis begin, is die sterftes tot en met 1981 aangeteken.

Tersia Pretorius lees die name van die familie se kleinkinders.

Buiten ‘n houtkruisie wat Pretorius in die Bybel gekry het, is daar verder geen merke of aantekeninge in behalwe die name en geskiedenis nie. Sy het gewik en weeg oor hoe om die situasie te benader, maar sy het ‘n dringendheid in haar hart ervaar om iéts daaraan te doen.

Die houtkruisie wat in die Familiebybel gevind is.

“Die gedagte het net by my opgekom, wie weet of daar nie al reeds mense daarna op soek is nie?” Toe neem sy haarself as voorbeeld: sy beduie na haar maroen-rooi Bybel wat saam met die ander een op haar sitkamertafel lê en sê sy sal byna enigiets doen om dit weer op te spoor sou dit verlore raak.

Besonderhede van kinders.

“Dit was my oorlede moeder s’n. Hy het nie baie inskrywings nie, maar as jy kyk hoe sy alles gemerk het en die notatjies en goed wat sy gemaak het… dit is ons tipe Familiebybel. Dit pyn in my hart om te dink dat hierdie boek eintlik by die regmatige eienaars moet wees.

Huwelike van kinders.

“Kry ons hulle nie opgespoor nie, dan weet ek hierdie boek is by my vir ‘n rede. Dan sal ek hom laat kis met ‘n glasblad voorop en teen my muur sit.”

Sterftegevalle.
Die Bybel is in 1953 gedruk.
Besonderhede van die vader en moerder.
Belangrike gebeurtenisse.
Die Familiebybel langs Tersia Pretorius s’n om sy grootte aan te dui.

LEES OOK: Komatipoort Voortrekkers herleef lydensweg simbolies

Back to top button