Kind se rehabilitasie word eersdaags in Mbombela voortgesit ná breinoperasie, beroertes, epileptiese aanvalle

lana Thomas (11) het Down se sindroom en moes beroertes en epileptiese aanvalle trotseer.

As haar gesondheid dit toelaat, sal Ilana binne ‘n week na die StepMed Rehabilitasiesentrum in Mbombela oorgeplaas word. Sy word tans in die Unitas Hospitaal in Pretoria behandel.

Aanvanklik het haar ouers, André en Elaine Thomas, kort na Ilana se beroerte op Kersdag verneem dat sy ‘n breinoperasie sou moes ondergaan. Na die beroerte was sy vir ‘n week aan die linkerkant van haar lyfie verlam, en die Moyamoya-sindroom is ook by haar gediagnoseer.

“Die Moyamoya-sindroom word ook die rookwolkiesindroom genoem word. Dit is baie seldsaam. Dit veroorsaak dat die bloedvate na die brein vernou en verdik,” het Elaine gesê.

Ilana in die hospitaal na die operasie.

“Moyamoya” is ‘n Japanese term en die sindroom is in die vroeë 1960’s vir die eerste keer gediagnoseer. In leketerme beteken dit die netwerk van vernoude kapillêre bloedvate lyk soos ‘n rookwolkie wanneer dit geskandeer word. Met hierdie tipe operasie verbind die dokters ‘n spesifieke tak van die kopvelslagaar aan ‘n ander tak wat aan die breinslagaar op sy buitenste oppervlak gekoppel is. Op hierdie manier gee chirurgie onmiddellike verbetering in die toevoer van bloed en suurstof na die brein.

Lees ook: Oupa sou vir klein Declan leer swem

Die middag voor die operasie op Maandag 24 Januarie by die Unitas Hospitaal, het Ilana lekker met haar ouers gesels en prentjies ingekleur. Tóé het hulle nie geweet dat hulle dalk eendag nie weer haar stemmetjie sal hoor nie.

Die bekende pediatriese neuroloë, drs. Michael Lippert en Joachim Mennen, was deel van die mediese span wat Ilana se operasie behartig het.

Ná die operasie het sy op Dinsdag 2 Februarie om 18:00 ‘n verdere terugslag gehad. Die dokters het vermoed sy het nog ‘n reuseberoerte gehad, maar na ‘n breinskandering is daar gevind dit was ‘n epileptiese aanval.

Op Maandag 24 Januarie was sy baie braaf en het lekker met haar ouers gesels, voor sy teater toe is.

“Behalwe die epileptiese aanval van Dinsdag het sy direk na die operasie drie beroertes in die hoësorgeenheid gehad, en daarna nog ‘n reeks kleiner beroertes. As gevolg van hierdie beroertes is sy tans aan die linkerkant van haar lyf verlam, kan sy nie sluk nie, moet sy ‘n doek dra en kan sy op hierdie oomblik nie praat nie,” het Elaine gesê.

Ilana ontvang reeds arbeids- en fisioterapie by die hospitaal in Pretoria. Dit sal by StepMed voortgesit word.

Haar onderwysers en mede-leerders by die Estralita Spesiale Skool in Lydenburg hoop dat sy eersdaags weer terug by die skool sal wees.

Om enige finansiële hulp rakende die kostes van die operasie en terapie vir Ilana aan te bied, whatsapp Elaine by 076 514 9480.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version