Baba Ayden se naastes vier sy eerste verjaardag

Ayden van Niekerk het rustig geslaap terwyl sy familie om hom sy eerste verjaardag op Maandag 1 November gevier het.

’n Pragtige koek met die syfer een het op die partytjietafel onder die koeltebome in die voortuin gepronk.

Die eregas het ’n verjaardagpakkie aangehad met sy naam en die syfer een daarop geborduur. Dit het die gebedsgroepie wat sy ma, Estelle van Niekerk, vir soveel maande onderskraag, gestuur. Estelle het kort-kort bietjie van sy spesiale melk in die voedingsbuisie gegooi terwyl die gaste aan kolwyntjies gesmul het.

Ayden sal moet wag tot hy effe ouer is voor hy eendag aan sy eie verjaardagkoek kan proe. Sy pa en Estelle se verloofde, Sarel Nortjé, gaan om die beurt vir Ayden tuis versorg.

Andries en Elize van Niekerk (Ayden se oupa en ouma) het saam met sy ma Estelle van Niekerk en hul familie Ayden se verjaardag gevier.

 

Haar ma, Elize van Niekerk, gaan ook handjie bysit. Die familie het op Woensdag 27 Oktober gehoor Ayden word uiteindelik ontslaan. “Hy het so goed op die terapie in die intensiewesorgeenheid gereageer dat die dokters gesê het ons kan hom maar huis toe neem. Hierdie mamma se hart is baie bly,” het Estelle gesê.

Hy het op Donderdag 6 Mei ophou asemhaal en is per helikopter van Lydenburg na die Netcare Garden City Hospitaal in Johannesburg gevlieg, waar hy sedertdien in die intensiewesorgeenheid behandeling ontvang het.

Die dokters het hom met hipoksie van die brein gediagnoseer. In leketaal is dit ’n toestand waar die brein nie genoeg suurstof kry nie. Dr. Miles Bartlett was een van die pediaters wat by Ayden se gekompliseerde geval betrokke was.

Hy was ook gemoeid by die klein vegtertjie Pippie Kruger; sy het op Oujaarsaand 2011 met jelvuuraanstekers brandwonde oor 80% van haar liggaampie opgedoen. Met volgehoue arbeidsterapie en hulp sal Ayden mettertyd weer leer bottel drink en eet. Binne ’n paar maande sal sy voedingspyp moontlik verwyder kan word.

Alle verdere behandeling wat Ayden vir die res van die jaar ontvang, moet self deur die familie betaal word. Hul mediese rekening beloop reeds R6 miljoen vir die jaar, en dit is nou uitgeput. As iemand vir sy terapie wil bydra, WhatsApp vir Estelle by 084 897 1861.

Ayden en sy uitgebreide familie by sy eerste verjaardag.

 

Lees ook: Oom Roelf pak ultrafietsren vir die sewende keer aan

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version