Vrou dood toe swerm bye haar aanval

'n "Landmerk" in dié grensdorp is Saterdag dood nadat sy deur 'n swerm verwoede bye aangeval is.

Die voorval het omstreeks 11:00 by Maria Badenhorst (73) en haar man, Ben (71), se huis in Wildebeesstraat gebeur.

Ananda Badenhorst, die egpaar se skoondogter, sê Maria en Ben het die oggend in die sitkamer gesit en televisie kyk toe hulle opmerk dat hulle een hondjie onbeheersd in die tuin rondgehardloop het.

“My skoonpa het opgestaan en na buite gegaan om ondersoek in te stel. Dit is toe hy opmerk dat bye die hondjie aangeval het. Beide hy en my skoonma is hoogs allergies vir bysteke. Die bye het hom ook begin steek. Toe Maria sien hy word aangeval, het sy vir hom gesê om histamien te drink en dat hulle dadelik na die dokter toe moes gaan.

“Hy het ‘n medikasie geneem en selfs ‘n halwe pilletjie vir die hondjie gegee. Hy het intussen na die motor gegaan
en daar vir sy vrou gewag. Sy is die huis in om die motorsleutels en haar selfoon te kry.

“Toe sy nie weer by die huis uitkom nie, het hy ingegaan om haar te gaan soek. Hy het haar in die tuin voor die
huis gekry. Haar kop, nek en groot dele van haar liggaam was oortrek deur verwoede bye. Sy het die tuinslang in haar hand gehad en het die bye van haar probeer afspoel.

“Dit was egter hopeloos,” vertel Ananda.

ALSO READ: IN FOTO’S: Dié leerders ken van kuns en voor ‘n gehoor praat

‘n Buurman het haar te hulp gesnel, sy hemp uitgetrek en dit aan die brand gesteek in die hoop dat die rook die bye sou verdryf.

Dit het ook nie gehelp nie.  Nog ‘n bystander het ‘n handdoek in sitronellaolie geweek en dit ook aan die brand gesteek om die bye te verdryf.

Intussen het die ambulans opgedaag om die egpaar vir mediese hulp te neem.  “Die bye het egter ook in die ambulans ingetrek en die voertuig kon nie gebruik word nie.”

Twee dokters het intussen by die toneel opgedaag en Maria in hulle eie voertuig na die spreekkamers geneem vir behandeling.

Sy was egter reeds dood.  Ben is na die Mediclinic Nelspruit geneem vir behandeling. Hy is gisteroggend ontslaan.
Die egpaar het 42 jaar en twee weke lank in Komatipoort gewoon.

Maria was ‘n bobaasbakster en was beroemd vir veral haar koeksisters, vetkoeke en melkterte, sê Ananda. Sy het die “gebakwonders” nog al die jare in haar kombuisie by die huis geskep.

“As daar nou één vrou was wat ‘n nuwe stoof opgebak het, was dit my ma,” sê Toekie Badenhorst, die egpaar se seun. “Sy was ‘n ware barmhartige Samaritaan en het ingespring en gehelp net waar  sy kon.”  Toekie sê medelye met haar afsterwe stroom van wêreldwyd in.

‘n Gedenkdiens word vandag om 11:00 by die Hervormde Kerk in Malalane gehou.

Waar die swerm bye so skielik vandaan gekom het, weet niemand nie. “Hulle was net skielik daar. Ons vermoed die swerm het van iewers agter die huis gekom, want hulle het ook iemand by ‘n nabygeleë huis gesteek,” sê Ananda.

Exit mobile version