Ná als bly Nataniël steeds dankbaar

Behalwe vir al sy stories, het Nataniël ook oor die grendeltydperk gepraat. Hy sê ongelooflike goed het gebeur toe mense gedwing is om werklik met diegene in hul huise saam te leef. "Jy sit daar met dít wat jy getrou het en dít wat julle gemaak het.

“Dit lyk of die Titanic getiep het!” was die woorde waarmee Nataniël die Hervormde Kerk-gehoor begroet het by sy 15:00-vertoning Saterdagmiddag.

Die 50-persoon gehoor het nie naastenby al die sitplekke volgesit het nie, en met die nodige spasiëring tussen hulle het almal so na as moontlik voor gesit om sy stories en sang te kon waardeer.

Nataniël. > Foto: Verskaf

Riaan Loubser, die organiseerder, het opgemerk watter absolute voorreg dit was om vir Nataniël al die pad in Mbombela te kan kry, en dit vir twee vertonings van slegs 50 mense elk.

Riaan Loubser en Louwna Booysen.

Die gemaskerde groepie het aan sy lippe gehang met elke humorryke verhaal en glansryke kostuumverwisseling.

Sy eerste swart jas-uitrusting se boonste helfte was met skitterende blou, rooi, groen en pienk blinkertjies versier; dit was toe hy vertel het van Marita met die wenkbroue wat eens op ‘n tyd in ‘n lugballonmandjie gepiepie het.

Erika Botha, Rika Bekker, Joey Botha en Annelie en Robert Pretorius.

Na haar was daar ‘n verhaal oor ‘n massiewe long, ‘n dik groen rusper en ‘n badstort met hande (alles op ‘n hoërskoolverhoog, en dit was veronderstel om ‘n druiwetros, ‘n blaar en reën voor te stel), en die verskynsel van “nekneuse”, alombekend as adamsappels.

En toe is dit tyd vir die tweede kostuumonthulling. Die eerste is oopgerits en ‘n elegante knielengte jas met ‘n plantaardige patroon is ontbloot. Ook die byna 10 cm-hoë swart stewels is toe meer sigbaar.

Nataniël. > Foto: Verskaf

LEES OOK: Dames leer selfverdediging by kenner tydens vrouedag

Tussendeur het Nataniël sy begeleier, Charl du Plessis, die wêreldbekende pianis, se lof besing. In die kerkgebou, anders as op meeste wêreldverhoë, moes Du Plessis, soos Nataniël daarna verwys het, die begeleiding op ‘n “AGS-breimasjien” (die sleutelbord) behartig. Dit was egter glo ‘n beter opsie as die “kroegtoonbank” (klavier) wat eenkant teen die muur gestaan het.

Louisa van der Merwe met een van Nataniël se boeke.

Nataniël het ook op sy storievertel-manier kommentaar gelewer op die afgelope paar maande van die pandemie en wat daaruit voortgespruit het.

Hy sê ongelooflike goed het gebeur in die grendeltydperk toe mense gedwing is om werklik met diegene in hul huise saam te leef. “Jy sit daar met dít wat jy getrou het en dít wat julle gemaak het.

“Mense het begin tuinmaak, mense het besef wat is fout met hulle huise – ons het die eienaardigste kombuise; hulle is gemaak deur mense wat nie kan kook nie vír mense wat nie kan kook nie.”

Ilse Combrink en Yvonne Mey.

Mense se binnenshuise versiering het natuurlik ook deurgeloop, van die keuse van muurbehangsels in die spaarkamer tot die varing in die badkamer. “Daardie varing is deur die Here gemaak, hy wil jou nie kaal sien nie!”
Laastens het hy gesê die gevangenskap het ons almal dankbaarheid geleer. “Voorheen het jy nie die foon geantwoord as die vertoning onder R80 000 was nie, nóú ry jy Nelspruit toe vir 50 mense!”

Met die onthulling van kostuum drie (swart blinkertjies voor en blomme agter en op die moue) het die vertoning einde se kant toe gestaan.

‘n Ordentlike applous (vir 50 mense) het die vertoning op ‘n hoë noot afgesluit, waarna verskeie lede van die gehoor van Nataniël se boeke en allerlei produkte in die voorportaal gaan koop het.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram 

Exit mobile version