Gemeenskap groet geliefde Laevelder na jare lange kankerstryd

Met hartseer groet die gemeenskap vir Nelia Venter (67), ‘n geliefde Laevelder en die vrou van die voormalige burgemeester, Charles Venter.

Na ‘n kankerstryd van 13 jaar is Nelia per haar wense stil en rustig in haar slaap op 5 Mei oorlede.

Nelia se stryd met kanker het in 2008 begin toe sy met borskanker gediagnoseer was. Nadat die gewas verwyder is en sy bestraling ontvang het, is sy egter twee jaar daarna met longvlieskanker gediagnoseer.

Met dié diagnose het Nelia se dokters haar twee jaar gegee om te leef, maar sy is vir 11 jaar daarna nog gespaar en was bevoorreg om haar twee kinders (die Venters het hul jongste seun in 2004 aan ‘n motorongeluk afgestaan) en ses kleinkinders te sien grootword.

Charles het aan Laevelder verduidelik dat die kanker net verder deur haar liggaam aanhou versprei het en dat die laaste paar jaar van haar lewe, en veral die laaste paar weke, moeilik was.

Die egpaar het baie avonture saam gedeel en was onder andere deel van die Mavericks Motorcycle Club wat gereeld deur die land getoer het.

Nelia het regdeur haar stryd ‘n baie ondersteunende groep vriende en familie gehad wat haar na haar chemoterapie geneem het, haar geselskap gehou het en haar gemotiveer het tydens swaar tye.

LEES OOK: Innibos Flinkdink-vasvra ‘n dawerende sukses

Haar begrafnisdiens word 16 Mei om 12:00 in die NG Moedergemeente Nelspruit gehou, met ‘n buitelugfunksie na die diens vir diegene wat dit nie kan bywoon nie.

Lees die volledige artikel in volgende Donderdag se Laevelder.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version