Bid vir baba MJ Erasmus

Medies gesproke is daar niks meer wat vir MJ Erasmus gedoen kan word nie. Laevelders het vir die afgelope ses maande saam met die Erasmus-gesin gejuig, gehuil en gebid.

Die gesin het verlede jaar dr. Michael Lippert, ‘n pediatriese neuroloog, by die Unitas Hospitaal in Centurion gaan sien.

Nadat die gesin Lippert vroeër die week weer besoek het, het Belinda Erasmus, MJ se tante, namens die gesin ‘n boodskap op Facebook geplaas: “Medies gesproke is daar niks wat hulle vir MJ kan doen nie. Sy brein is besig om te krimp wat gaan veroorsaak dat hy net gaan ophou asemhaal.”

“Wat nou gebeur is vir ons as ouers die bitterste pil om te sluk. Ons kind is besig om stadig voor ons dood te gaan en ons kan niks doen nie. Tyd is nou in die Here se hande. Ons as gesin het God nou nodiger as ooit!” sê MJ se ma, Adri.

 

Na hul besoek aan Lippert het die gesin MJ huis toe geneem met sterker pynmedikasie en verdowingsmiddels sodat hy gemaklik gehou kan word.

Voor sy geboorte is ses maande oue baba MJ met klompvoetjies gediagnoseer, en dadelik na sy geboorte het verdere komplikasies met sy stryd om op sy eie asem te haal, weens longontsteking en hartversaking, begin.

Na verdere toetse is MJ later met agenesie van die corpus callossum asook kraniosinostose gediagnoseer, wat beteken dat hy nooit op sy eie sal kan asemhaal en sy brein nooit verder as dié van ‘n pasgebore baba sal ontwikkel nie.

Op 19 September moes die Erasmus-gesin ‘n moeilike besluit neem. “Ons moet klein MJ laat gaan. Dit is geen lewe vir ‘n kind om permanent aan ‘n ventilator gekoppel te wees nie,” het Adri in November aan Laevelder gesê.

LEES OOK: Aladdin uiteindelik op die towertapyt

Hy is toe na die palliatiewe sorgsentrum oorgeplaas, maar drie dae later gebeur ‘n wonderwerk en hy begin op sy eie asemhaal.

Desember en Januarie was ‘n groot uitdaging vir die gesin nadat hy ‘n voedingsbuis deur sy neus nodig gehad het en Adri, Marius (MJ se pa) en MJ positief getoets word vir Covid-19.

Die gesin bedank die gemeenskap vir hulle gebede tot dusver, in besonder vir Bianca Ferreira wat namens hulle ‘n lotjie-fondsinsameling hou om MJ se mediese onkostes te dek.

LEES OOK: Jo Black se voorstoepverskyning ‘n ervaring

Fondsinsameling om MJ se mediese onkostes te dek

Koop ‘n kaartjie teen R100 en staan ‘n kans om een van 70 pryse te wen. 

Stuur ‘n boodskap na Bianca (084-548-4296) met ‘n nommer tussen 1 en 200 om die nommer te koop. 

Die trekking word op 12 April gehou. 

Exit mobile version