Local newsNews

Witrivier VLU vier 11de bestaansjaar

Die Querida-tak van die Suid-Afrikaanse Vroue Landbou-unie (VLU) het op Woensdag 17 Maart sy 11de verjaarsdag gevier.

Die funksie is by Pieter Malan, meer bekend as PappaChef, se toetskombuis in Mbombela gehou. Malan het bekendheid verwerf toe hy aan kykNET se werklikheidskookkompetisie, Kokkedoor, deelgeneem het.

Die lede van die Querida-tak was die eerste besoekers aan die nuwe toetskombuis en Malan het kos voorgesit waarmee hy sy ouma, ook ’n VLU-lid, vereer het.

Die Querida-tak vorm deel van die Malieveld-streek van die VLU en is die plaaslike tak vir die Witrivier-gemeenskap.

Daar is 27 lede in die tak, met ouderdomme wat wissel van 20 tot 80. Die tak is in 2011 gestig toe daar ’n behoefte in die gemeenskap geïdentifiseer is.

ALSO READ: Local organisation makes great great strides to help little warriors

Die VLU is al in 1931 gestig, maar die lede van die Querida-tak glo dit vertolk steeds ’n rol in vandag se samelewing.

“Die VLU het vernuwe en is vandag meer as net ’n bak-en-brou-organisasie. Ons is betrokke by alle aspekte van die samelewing,” se Daleen Farmer, woordvoerder van die tak.

“Ek het aangesluit om by ander vroue te leer. Daar is ’n magdom kennis onder die vroue.”

Die VLU dra die tradisies van die Voortrekker-vroue oor en probeer dit terselfdertyd te hernuwe.

“Ons probeer soveel as moontlik jonger lede werf om die bestaan van die VLU te verseker, asook om vroue te bemagtig om nuwe vaardighede aan te leer,” sê Stella Visser, een van die stigterslede van die tak.

“Ons het wonderlike en talentvolle ouer lede wat maar té bereid is om hulle kennis en ervaring met die jongeres te deel.” Enige vrou bo die ouderdom van 16 kan by die VLU aansluit.

Back to top button