Local newsNews

KYK: Coco einde ten laaste veilig terug by die huis

Chris Norval het op Saterdag 13 Maart hulle twee hondjies, Coco, die Chinese keeshond en Milo, die yorkshireterriër, by die Feeding Frenzy-troeteldierwinkel gaan aflaai om lekker bederf te word. Min het hulle geweet wat die volgende tien dae vir hulle gewag het.

Rondom 11:00 die Saterdag het die Norvals die twee honde afgelaai en ’n draai by die Saterdag-mark gaan loop.

Nie te lank daarna het die salon Norval gekontak en gesê dat Coco nie geskeer wil word nie en besig was om aggressief te raak. Norval het voorgestel dat hulle haar dan eerder nie skeer nie, en hulle in kennis gestel dat hy op pad is om haar te kom haal. Intussen het die werker by die salon sy greep op die hond verloor en sy het ontsnap.

Coco het in die rigting van die N4 met die kanaal afgeswem waar Chris haar toe agterna gesit het. Teen die pad het hy haar spore verloor. Die gesin het dadelik op sosiale media plasings vir hulp begin maak om hulle geliefde hond op te spoor. Teen Saterdagaand het hulle desperaat geraak en ’n WhatsApp-groep gestig om te help soek.

Die soektog is Sondag voortgesit met die hulp van Jaco Klopper, ’n vrywilliger wat die dienste van sy spoorhond aangebied het. ’n Tweede vrywilliger het daagliks met sy hommeltuigkamera video’s geneem in ’n poging om haar op te spoor.

KYK: Die beeldmateriaal van die hommeltuigkamera van die area waar daar na Coco gesoek was

Maandag moes almal terug werk toe, maar die soektog het saans voortgeduur. Mense van verskeie gebiede het daarmee gehelp. Teen Dinsdag het Norval begin pamflette versprei.

Kort daarna het hy ’n oproep van ’n anonieme persoon ontvang wat aangebied het om R1 000 by te dra vir ’n beloning. Nóg mense het geld geskenk en op die ou end was daar ’n beloning van R4 000. So het die week verloop, met oproepe van besigtigings op sekere dae, en niks op ander.

Norval het ook op verskeie plekke van sy kouse en kos vir Coco gelos gelos. Na ’n paar besigtigings in die Mataffin-area het die gesin besluit om in daardie spesifieke gebied te gaan soek. Hulle het Saterdag en Sondag, 20 en 21 Maart, die heeldag gesoek.

Saterdagaand het Norval ’n oproep van twee mans wat gesukkel het om Engels te praat ontvang, maar hulle het wel gekommunikeer dat hulle vir Coco gesien het. Norval het een van die mans se nommer vir Jeandré Bodenstein, een van sy dogters se kêrels, aangestuur om te hou. “Teen Sondag was ek keelvol. As dit nie was vir al die bemoediging van die WhatsApp-groep nie, sou ek nie weer die Sondagaand na haar gaan soek het nie. Dit het gereën en ons het naderhand papnat by die huis gekom, maar ons het tot 21:00 gesoek,” vertel Norval.

Sondagaand het Norval en Bodenstein besluit om Maandagoggend vroeg al te ry en in in die gebied waar sy al so baie gesien is, te gaan sit. Tussen 05:00 en 07:00 kry hulle nog oproepe.

LUISTER: Norval lig die Whatsapp-groep in dat hy ‘n oproep ontvang het van iemand wat weer vir Coco gesien het

 

Die eerste daarvan was om te sê dat ’n hawelose man by die Shell-vulstasie by Halls vir Coco saam met ’n ander hond sien hardloop het. Die twee honde het in die rigting van die smouse se stalletjies gehardloop, maar toe Norval en Bodenstein daar aangekom het was hulle reeds weg.

Die tweede oproep was van dieselfde twee mans wat haar Saterdag gewaar het om te sê dat hulle haar weer in die gebied gesien het. Op pad soontoe, ongeveer 07:00, kom die derde oproep van ’n kennis wat gesê het die pastoor van ’n kerk in Mataffin het Coco in haar erf saam met een van haar eie honde gewaar. Norval het die pastoor dadelik gekontak en na haar huis gery.

LUISTER: Norval laat weet opgewonde dat Bodenstein vir Coco in sig het

 

By die pastoor se huis het sy die rigting aangedui waarin Coco gehardloop het en so het Norval, Bodenstein en die twee mans wat die oproep gemaak het haar agtervolg totdat hulle haar gesien het.

LUISTER: Norvaal se stemboodskap op die Whatsapp-groep om te sê dat Coco veilig gevind is

Norval het haar geroep. “Ek het haar nog nooit so sien stop nie! Sy het binne sekondes haar ore plat getrek, kar toe gehardloop en by die venster ingespring,” lag Norval.

KYK: Coco se eerste ontmoeting met Norval

 

Hy het die beloningsgeld tussen die twee mans opgedeel. Die gesin het ook ’n klein beloning vir die hawelose man gegee, wat hulle in die regte rigting gewys het.

Coco het maer en met rou pootjies by die huis gekom, maar is ongedeerd.

Haar eerste skeer vandat sy gevind is.

“Daar het soveel mense gehelp en gereël. Ons kan nie iemand uitsonder om te bedank nie, anders gaan ek omtrent 90 name moet noem. Ons is dankbaar vir almal se hulp, selfs dié waarvan ons nie eers geweet het nie,” sê Norval.

LEES OOK: Vetkoekverkope help om Bybels te betaal

Die Norvals hou Saterdag 27 Maart ’n byeenkoms by Nelspruit Rugby Club waar almal wat gehelp het vir Coco kan ontmoet en in die gesin se vreugde oor haar veilige terugkoms kan deel.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button