Local newsNews

Feeding Frenzy-eienaar brei uit oor saga met DBV

Ongeveer ’n jaar na meer as 300 diere by die Feeding Frenzy Pet Shop in beslag gelê is, ontvang dié winkel steeds maandelikse besoeke deur die Nelspruit DBV.

Laevelder het verlede week berig dat die laaste van die diere wat verlede Februarie gekonfiskeer is, onlangs uitgesit is. Sommige van die gelukkiger diere het wel huise gekry. Die voëls wat uitgesit is, daarteenoor, mag egter volgens die DBV se beleid nie aangeneem geword het nie.

Daar was sprake dat sommige van die voëls na Birds of Eden Free Flight Sanctuary in Plettenbergbaai sou kon gaan, maar hierdie plan het nie realiseer nie. Die DBV het nog nie kommentaar gelewer oor die moontlike redes hiervoor nie.

Die eienaar van die troeteldierwinkel, Derick Barnard, het na afloop van die beslaglegging gesê baie mense het aangebied om te help met die diere. “Daarom wil ek dankie sê vir almal. Ons het ook aangebied om die DBV te voorsien van kos, maar dit is van die hand gewys – daar is gesê dat dit gesien gaan word as omkopery.”

LEES OOK: Huis Bethlehem verkoop pikante kledingstukke

Barnard het gesê onder die diere wat verwyder is, was ook “oor die 30 muise en 20 rotte.” Hy meen die DBV teiken sy winkel. “Daar was ook meelwurms, krieke en superwurms gevat – dit bewys dat ons geteiken is. Hoe mishandel jy meelwurms en krieke?”

Die DBV het egter gesê een van die vele redes vir die konfiskering was die algehele vuil omstandighede waarin die diere verlede jaar aangehou is; dus het die krieke en wurms ook hieronder getel.

Volgens Barnard het die nasionale DBV hulle op verskeie kere besoek en was die organisasie tevrede met wat hulle gesien het.

Barnard het gesê hy kan, nes die DBV, ook nie tans verder kommentaar lewer oor die voortslepende regsaak nie, en het die koerant na sy prokureur verwys. Die prokureur kon nog nie vir kommentaar bereik word nie.

LEES OOK: Innibos 2021: Aaneen en oral, selfs al druk Covid

Die koerant het Feeding Frenzy Dinsdag besoek en is toegelaat om die winkel te betree en ook foto’s te neem. Barnard meen alles bly in hierdie stadium dieselfde as vroeër en hulle gaan aan met sakebedrywighede. “Ons word elke maand deur die DBV besoek en het nog geen ander waarskuwings gekry nie.”

Hy het die nuutste verslag aan die koerant gestuur en die DBV het dit ook bevestig. Die Nelspruit DBV het gesê hulle volg gereeld op en probeer weekliks by die winkel uitkom, maar dit is nie altyd moontlik nie. “Ons het nog nie weer waarskuwings gegee nie. Dit lyk heelwat beter.”

LEES OOK: Barberton-inwoner aangeval op plaas

Volgens die eienaar is daar twee voltydse mense wat die hele dag skoonmaak, kosgee en die diere versorg. “Ons verkoop alle pluimvee, voëls, marmotte, krimpvarkies, hokke, kos, saad, viskos en ook medisyne. Ons het ook ’n hondesalon waar ons honde skeer en was.”

Die DBV gaan binnekort ’n verklaring uitreik oor die huidige stand van sake.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button