Local newsNews

AfriForum ondersteun skole met hulppakket

Die burgerregteorganisasie, AfriForum, sal eersdaags in samewerking met sy takstrukture en AfriForum Jeug 'n skolehulppakketprojek van stapel stuur  om kwintiel vier- en vyf-skole landwyd by te staan.

Dié hulppakket sal hierdie skole van inligtingstukke, plakkate oor veilige klaskamers en higiëne, ‘n hulpbrongids vir ouers, onderwysers en leerders, elektroniese koorsmeters en handreinigers voorsien. Dié behoefte by hierdie skole het ontstaan nadat Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, aankondig het dat die staat net kwintiel een- tot drie-skole sal bystaan met die nodige hulpbronne en maatreëls wanneer die skole weer heropen.

“AfriForum beskou hierdie hulppakket aan kwintiel vier- en vyf-skole as ‘n noodsaaklikheid. Hierdie skole ervaar ook finansiële druk en is nie in ‘n posisie om al hierdie benodighede self aan te skaf nie. Hulp van die staat moet aan alle skole verleen word en nie net aan sekere skole nie,” sê Carien Bloem, bestuurder vir onderwys by AfriForum.

“Die verspreiding van hierdie pakkette sal in die laaste week van Mei geskied, sodat skole gereed kan wees vir heropening. Ons het reeds talle versoeke van skole ontvang wat hierdie pakkette benodig,” voeg sy by.

LEES OOK: Rolprent oor Gerrie Coetzee binnekort op die lappe

AfriForum wil skole wat ook ‘n behoefte aan hierdie hulppakket het uitnooi om voor of op 22 Mei ‘n e-pos te stuur aan onderwys@afriforum.co.za.

Skole word in kwintiele verdeel volgens die finansiële vermoë van die gemeenskap waarin die skool gevestig is. Kwintiel een tot drie bevat skole in die armste gemeenskappe en ontvang aansienlik meer befondsing en hulpbronne van die staat.

Openbare skole wat skoolgeld hef word as kwintiel vier of vyf gekategoriseer, beskik oor meer hulpbronne en bevat kinders vanuit meer gegoede gesinne. Hierdie skole ontvang aansienlik minder van die staat en verwag hoofsaaklik van ouers om die finansiële las van onderwysvoorsiening te dra.

Back to top button