KYK: Perde hardloop vrylik in die ring rond op Aryana-stoetplaas vir oues se genot

Die Care Buddies het inwoners van verskeie ouetehuise in die Laeveld bederf met 'n uitstappie na 'n stoetplaas.

Die inwoners van Laeveldrus, Huis Herfsakker, Mpumalanga Outehuis, Macadamia Care en Mataffin Macadamia Care het verlede week op ‘n uitstappie na die Mac Man Boerdery gegaan om meer van arabierperde te leer.

Die groot bome het genoeg koelte aan almal verskaf om die diere te aanskou.

Die arabierperde het sommige van die oumense teruggeneem na hul kinderdae toe hulle self nog perdgery het.

LEES OOK: Die Nellie Miere vier vanjaar hulle 20ste bestaansjaar

Daar is verduidelik dat arabierperde korter rûe het en oorspronklik in die woestyn grootgemaak is, dus is hulle sterker en kan langer afstande aflê.

In die ring het hulle vrylik gepronk en sonder leiding opgetree.

Daar was geleentheid om hulle te vryf en wortels te voer, en die besoekers het met kinderlike opgewondenheid nader gestaan om aan die gespierde reuse te raak.

Sommige het hartstories uit hulle verlede gedeel.

Na die perde se vertoning was daar geleentheid vir mense om die diere in hulle stalle te gaan besoek.

Van die oumense het ‘n oomblik in stilte by ‘n perd deurgebring.

“Hierdie is ‘n geleentheid vir die oumense om buite die vier mure van hul huise te kom; ‘n bietjie opwinding,” sê Meisie Barnard van Care Buddies, Mbombela.

LEES OOK: SAVF Rustig hou jaarlikse basaar by NG Kerk Witrivier 

LEES OOK: Cecilia van Wijk Kleuterskool word 60

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version