Laeveld legende Dirk Bosman dood na stryd met kanker

Dirk Bosman (75), legendariese prokureur en regsman van die Laeveld, is dood. Hy het op Vrydag 13 Maart na 'n 15-jaar lange geveg teen kanker die stryd verloor.

Buks Viljoen, voormalige joernalis van die Laevelder, het Bosman in 1989 leer ken in die gange van die Nelspruit-landdroskantoor. Bosman, met sy rooi hare, sproetgesig, toga oor die arm, ‘n stapel lêers in die hand, so effe vooroorgebuig en oë effe afgeslaan na die vloer, kom in die lang hofgang afgestap, maar soos hy nader kom sien jy daai glinster (en ondeundheid) in sy oë.

En daai oë mis niks. Bosman was ‘n briljante regsbrein, het die wet op die punte van sy vingers geken en al het hy soms in die hof voorgegee hy weet nou rêrig nie wat aangaan nie, was hy ‘n uitgeslape strateeg. Bosman het na sy aftrede in Dullstroom gewoon waar hy onder meer met beeste geboer het.

LEES OOK: Bekende tekenkunstenaar van die Laeveld sterf

“Dirk, jy was my eerste en enigste liefde en ek gaan jou geweldig mis,” het sy vrou, Karien, Sondag aan Laevelder gesê. Hulle was vir 51 jaar getroud. “

Sy passie vir die lewe was onblusbaar en aansteeklik. Sy humor, intellek, liefde vir musiek en gedigte, asook sy vaste geloof in God, het van hom ‘n unieke mens gemaak. Dan was hy nog ‘n korrelkop en platjie daarby.” Adv. Tom Dreyer, wat sedert 1983 in vennootskap met Bosman was, sê hy het verlede Maandag nog by ‘n hospitaal in Pretoria vir Bosman gaan kuier. “Dirk was tot op die laaste dieselfde man as wat ek al die jare lank geken het.

Ten spyte van sy siekte het hy nooit verander nie.” Reint Dykema, Bosman se skoonseun, sê: “Dirk Bosman was my pa en skoonpa vir meer as 25 jaar. Ons kon wyd en suid oor enige onderwerp gesels. En nog lekkerder gesels om ‘n vuurtjie wat brand en ‘n vleisie wat braai.”

LEES OOK: Bekende skrywer oorlede

Bosman se dogter, Amanda, beskryf haar pa so: “Hy was ‘n ongelooflike pa en was ‘n insatiable consumer of life.

Hy was luidrugtig in sy passie vir die lewe, stil en stip waar dit nodig was, maar sag waar dit saakgemaak het.” Bosman word more om 11:00 vanuit die Gereformeerde Kerk Rietvallei in Erasmuskloof, Pretoria, begrawe.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version