Local newsNews

Oud-Laevelder se fokus is om gesond en veilig te bly in Hong Kong

MBOMBELA - Aliche Bezuidenhout se fokus is nou om net gesond en veilig te bly. Hierdie oud-Laevelder woon al 'n jaar in Hong Kong, waar sy vir kinders Engels gee. Die lesse geskied egter nou hoofsaaklik per internet sedert die uitbreek van die coronavirus.

Die eerste sterfte weens die siekte is Dinsdag in Hong Kong aangeteken. Ten minste 425 mense is teen druktyd reeds dood – die meeste in China. Geen gevalle is al in Suid-Afrika aangemeld nie. Bezuidenhout sê daar heers grootskaalse paranoia in haar nuwe stad. “Eers was dit die prys van die antibakteriese chirurgiese maskers, en toe onsekerheid oor watter tipe masker jy moet dra.

Nou is dit net grootskaalse paranoia oor enige masker teen enige prys.  “Ons het laat verlede week opgemerk dat mense nie net maskers en handreiniger (wat ook meer nêrens te vinde is nie) opgaar nie, maar enigiets wat van China af kom.

“Baie ondernemings in China is tydelik toe en mense vrees dat goedere moontlik nie deur die grens sal kan kom nie.” Items wat nou dikwels uitverkoop is, sluit in toiletpapier, nie-bederfbare kos soos blikkies tuna en ramen, asook handseep en ander skoonmaakprodukte.

“Ek het nog nie iemand aggressief teëgekom nie, maar daar is definitief paniek en bekommernis oor wat die twee of drie weke na die Chinese Nuwejaar vir Hong Kong gaan inhou.” Bezuidenhout vind wel die maskers vreemd. Ongeveer 99 % van die mense dra nou die maskers dit in die openbaar. Hoewel dit vir plaaslike inwoners algemeen is om een te dra wanneer hulle siek is, word dit nou eintlik van jou verwag.

ALSO READ: Curro Nelspruit gifted a little car

“Daar is baie teorieë oor of dit regtig werk of nie, maar op die oomblik word jy lelik uitgekyk as jy nie een dra nie. In restaurante is dit egter nie so maklik nie, en hier is ‘n groot uiteetkultuur.  “Die sosiaal aanvaarbare ding om te doen is om jou masker te dra – of jy nou seker is of dit werk of nie.

Hande was is egter baie belangrik en ons loop maar met ons handontsmettingsmiddels en antibakteriese lappies rond. “Plaaslike inwoners neem die virus verskriklik ernstig op. Hulle is reeds deur soortgelyke ervarings met SARS en MERS, en meen die maskers is ten minste een linie van verdediging.

“In my ervaring maak expats nog baie grappies hieroor, maar die meeste raak nou bekommerd dat daar dalk ook reisbeperkings ingestel gaan word, soos in China, en dit belemmer baie vakansie- en reisplanne.

“Ek is self onseker of ek Paasnaweek my beplande trippie sal kan doen. Op hierdie stadium is dit egter die minste van my bekommernis en probeer ons maar net gesond en veilig bly!” Volgens Bezuidenhout was een van die trekpleisters van Hong Kong vir haar dat dit baie veilig was.

“Hier word gestap en gedraf en dog walkies gedoen enige tyd van die nag en dag. Dit is steeds vir my vreemd om na 22:00 te sien hoeveel mense nog buite bedrywig is. Hoewel die humiditeit baie erg is hier in die somer, is die temperatuur soortgelyk aan dié van Mbombela, en beteken dit ‘n matige winter.”

Vir Bezuidenhout is die openbare vervoer skoon, betyds, bekostigbaar, en maklik om te gebruik. “Dit is amazing. Ek kan kies of ek per bus, veerboot of met die MTR (ondergrondse treine) of selfs taxi werk toe gaan. My gunsteling is natuurlik die veerboot, eerder as om in die verkeer te sit of die stampvol MTR aan te durf.”

Daar is reeds ongeveer agt maande politieke onrus en betogings. “Ek dink ek het dit baie beter ervaar as sommige ander expats en selfs plaaslike mense, bloot oor die feit dat ek al voorheen in Suid-Afrika blootstelling gehad het aan protesoptogte. Of ek nou saamstem of nie, het ek baie respek vir die beswaarmakers se deursettingsvermoë en beginselvastheid. Ek stem nie noodwendig met die geweld saam nie, but I’m sympathetic towards their cause.

“Die protesaksies is gewoonlik ook darem van so ‘n aard dat ‘n mens dit maklik kan ontduik. Dit is ook verstommend om te sien hoe hulle van tegnologie gebruik maak om samekomste te reel en te kommunikeer. Die gebruik van verskeie sosiale mediaplatforms het ‘n hele nuwe dimensie aan die konsep van ‘n protes gegee.”

“Die betogings is al ‘n geruime tyd bietjie meer kalm en op ‘n kleiner skaal, maar die uitbreek van die virus sal wel die samekoms van groot groepe mense belemmer. Hoewel die Hong Kongers passievol is oor demokrasie, dink ek hulle is goed genoeg ingelig om nie onverantwoordelik op te tree in die geval van so ‘n epidemie soos dié nie, so persoonlik verwag ek nie binnekort groot optogte nie.

Die gesondheidswerkers dreig wel met protesaksie en is van mening dat die Hong Kong-regering die grens tussen die Chinese vasteland en Hong Kong heeltemal moet toemaak om verligting vir die werkers te bring. “Beide die epidemie en betogings het ‘n baie negatiewe effek op die ekonomie.

Sakeondernemings en veral die toerisme-industrie het nog nie daarvan herstel nie, en hierdie is nou so te sê ‘n finale kishou vir menigte besighede. Maskers is wel tydens groot samekomste as gevolg van die protesaksie verban, maar die wetgewing maak toegewings vir gesondheidsdoeleindes – soos in hierdie geval.”

Volgens Bezuidenhout is die meeste skole tans toe vir die res van Februarie, “maar my werkgewer vermoed dit gaan langer toebly, soos in die geval van SARS en MERS. Heelwat Hong Kongers was verlede week met verlof en sekere besighede was toe vir die Chinese Nuwejaar.

Ek het verlede jaar tydens hierdie tydperk hier aangekom, en dit was verskriklik besig op straat en in die treine. Daar was baie toeriste vanaf die Chinese vasteland. In kontras was dit vanjaar ‘n stil en stug Chinese Nuwejaar. Baie restaurante maak vroeg toe en die strate lê leeg.

Ons het vandag weer begin werk, maar die treine en veerboot is maar leeg, omdat baie besighede hul werknemers vra om van die huis af te werk – ‘n idee wat nie meer heeltemal vreemd is hier nie, na besighede ook op een stadium hiernatoe gedryf is verlede jaar weens betogings, en sekere werknemers ook huis toe gestuur word met tifoonwaarskuwings.” Bezuidenhout-hulle het onlangs weer begin werk na die vakansie.

“Ons gee nou hoofsaaklik aanlyn klas, en kindertjies word gevra om van die huis af in te skakel. As hier wel ‘n leerder opdaag, trek ons maar ons maskertjies aan en gee klas, maar die meerderheid is nou vir die voorsienbare toekoms aanlyn.

Dit is egter baie anders as om in persoon klas te gee, veral met sulke jong leerders, en moet ons maar ons kurrikulum bietjie aanpas. Volgens Bezuidenhout vermy die meeste mense maar oorvol plekke indien moontlik, verkeer ietwat minder sosiaal, en gaan maar net uit vir die nodigste.

“Almal doen maar steeds hul daaglikse dingetjies, en is die strate nie so stil soos ons in beeldmateriaal uit Wuhan sien nie. Ons is immers nie op lockdown nie – nog nie, maar mense probeer maar veilig en ingelig wees.”
Bezuidenhout was self Desember in Beijing.

“Ek het dit interessant gevind toe ek 20 Desember in Suid-Afrika land, dat ons koors by doane gemeet moes word, minwetend van die epidemie wat sou uitbreek. Ek het twee stithouplekke in China gehad, met beide die kom en gaan voor en na Kersfees. Met my terugkoms hier het ek te hore gekom van die virus, maar die voorgestelde ontkiemingstyd van 14 dae het gelukkig gekom en gegaan sonder dat ek enige simptome getoon het.

Ek is net baie, baie dankbaar dat my reisplanne voor die groot uitbreek was.” Daar is blykbaar ‘n tekort aan die chirurgiese maskers. “Sodra daar ‘n besending by ‘n apteek of winkel afgelewer word, word dit binne minute opgekoop is.

Party winkels beperk die klante tot een of twee boksies per persoon, teen ‘n lawwe prys natuurlik. As mense vooraf ingelig word dat maskers op pad is, staan hulle tou en kry hulle tokens om dan uiteindelik ‘n boks te kan koop en so te vermy dat hulle onnodig toustaan. Die groot tekort is aan die weggooi-chirurgiese maskers wat jy basies een keer gebruik en vervang as jy dit afgehaal het.

Dan is daar die gewone gesigsmaskers en stuifmeel-/besoedelingsmaskers wat nie goed genoeg is om bakterieë te stop nie. N95-maskers is glo die beteres, maar is moeilik om mee asem te haal en baie duur. Ek wag tans op ‘n besending maskers en handreiniger wat my ouers vanaf Mbombela vir my stuur. Die meeste werkgewers verskaf ten minste een masker per dag per werknemer.

“Ons kon nog Woensdag maskers koop, en van daar af het dit al hoe skaarser geword en kon ek teen Vrydag en Saterdag glad nie meer die regtes kry nie, en as daar ‘n besending inkom is dit verskriklik duur en word dit vinnig uitverkoop.

My werkgewer het gelukkig ‘n klompie aan ons beskikbaar gestel en neem die nodige voorsorg ten opsigte van skoonmaakmiddels en handreiniger. Hoewel ons aanlyn klasgee, lê baie ouers steeds besoek by die sentrum af, en gaan ons ook maar steeds uit vir middagete.”

ALSO READ: Hoërskool Nelspruit boasts with new wheels thanks to Westvaal

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button