Kindermoordenaar se paroolaansoek word goedgekeur

Flippie Venter (48), die sersant van die Suid-Afrikaanse Lugmag wat sy twee jong kinders in 2006 met 'n R4-aanvalsgeweer doodgeskiet het terwyl hy uit was op borgtog vir 'n ander moord, se paroolaansoek was suksesvol. Foto: Brent Lindeque

Venter (48) het sy dogtertjie Millize (5) in die rug geskiet en sy seuntjie Janco (4) in die bors. Hy het ook sy destydse vrou, Millie, in die maag geskiet, maar sy het die aanval oorleef.

Venter het die moorde gepleeg terwyl hy uit was op borgtog nadat hy aangekla is van die moord op Therése Nkeshimana (14), waaraan hy later skuldig bevind is. ‘n Militêre hof het hom destyds tot 24 jaar gevangenisstraf gevonnis vir sy misdade, wat ook die aanranding van ‘n veiligheidswag in Burundi en dros uit die lugmag, ingesluit het.

LEES OOK: Per ongeluk is strafbare manslag

Tydens sy hofsaak het Venter beweer dat sy lewe glo verkeerd begin gaan het met sy vertrek na Burundi in 2002. Hy het getuig dat vier van sy vriende verdrink het terwyl hy daar was, maar dat hy geen berading ontvang het nie. In 2004 is hy aangekla van die verkragting van en moord op die tienersekswerker, Therése.

Hy het ook getuig dat hy nie die voorval op 26 April, 2006, by die egpaar se huis op die militêre basis op Hoedspruit, kon onthou nie. Hy het egter beweer dat hy kon onthou dat hy in dié tyd uiters depressief gevoel het.

Onder kruisverhoor het staatsadvokaat Eric van der Merwe gesê dat Venter sy gesin geskiet het toe hy ontsteld was, dat daar ‘n argument was, en dat hy sy eks-vrou beskuldig het daarvan dat ‘n kolonel op die basis glo met haar geflankeer het.

Adv. Patrick Loots het aangevoer dat die Burundi-verhoor ‘n vreeslike emosionele en sielkundige uitwerking op Venter gehad het, en dat dit hom verby breekpunt gedryf het.

Maar van der Merwe het gesê dat nie elke soldaat wat uit Burundi terugkeer sy gesin vermoor het nie.
Hy het gevind dat Venter kalm was toe hy sy kinders geskiet het. Hy het gesê dit blyk dat sy herinnering aan die voorval weens die trauma onderdruk is.

LEES OOK: Stats indicate hijackings are not prevalent in Lowveld

Hy is skuldig bevind en tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op Millize, waarvan vyf jaar opgeskort is. Nog 10 jaar is gevoeg vir die moord op Janco en agt jaar vir die poging tot moord op Millie.
Die regter het gelas dat die vonnisse gelyktydig uitgedien sou word.

Die appèlhof het later sy vonnis tot 18 jaar verhoog.

Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die Departement van Korrektiewe Dienste, het bevestig dat Venter voor die paroolraad verskyn het en dat sy aansoek suksesvol was.

Hy het gesê dat hy aanvanklik eers in Julie vir parool in aanmerking sou gekom het, maar dat dat die beslissing van die Grondwethof – wat toegelaat het dat ‘n sekere kategorie gevangenes wat voor 1 Oktober 2004 misdade gepleeg het, maar net later gevonnis is om parool te ontvang, vrygelaat kan word – hom bevoordeel het. Twintig ander kriteria is ook tydens die proses oorweeg.

Volgens The Citizen is die gesinne van Venter se slagoffers na die paroolverhoor genooi. “Millie het aangedui dat sy nie bereid was om aan die proses deel te neem nie, maar het op skrif gesê dat hy sy volle vonnis moes uitdien. Pogings om Therése se familielede en die gesin van die veiligheidswag in Burundi te bereik, was onsuksesvol,” het die koerant berig.

Laevelder kon nie Millie vir kommentaar bereik nie.

Exit mobile version