Local newsNews

Hospitaal wys detoksifikasiepasiënte weg

MBOMBELA - Dit is só moeilik wanneer jy die regte ding wil doen en dit voel of die heelal net nie saam met jou wil werk nie. 

Só meen ‘n pasiënt van Sanca Laeveld wie probeer het om te detoksifiseer van sy ernstige verslawing aan slaappille, en by Themba Hospitaal weggewys is.

Laevelder het voorheen berig dat detoksifikasiepasiënte by dié hospitaal weggewys word wanneer hulle uitvind dat die pasiënte nie van die KaBokweni-gemeenskap afkomstig is nie.

Die pasiënt, wat annoniem wou bly, vertel dat hy op 30 Augustus saam met sy lewensmaat na die hospitaal gegaan het. Hy is verwys deur Sanca se sr. Debbie Capazorio.

Volgens haar het die pasiënt nie net gesukkel met ontrekkingsimptome nie, maar het hy ook selfmoordneigings gehad.

LEES OOK: Eye in the sky can catch criminals

“‘n Mens verwag dat as een professionele persoon ‘n verwysing maak na ‘n ander professionele persoon, dat jy ernstig opgeneem gaan word. Maar dit gebeur doodeenvoudig nie.”

By die hospitaal is die pasiënt, volgens hom, basies geïgnoreer. Hy en sy lewensmaat het gewag vir ongeveer twee en ‘n half ure totdat personeel van die hospitaal begin het om uit te klok.

“Dit is onaanvaarbaar vir ‘n dokter om te sê hulle kan nie help nie. Jy neem tog ‘n eed af dat jy te alle tye ‘n pasiënt sal beskerm,” het ‘n bekommerde Capazorio gesê. Vir die pasiënt was dit ‘n nare ervaring.

“Ek kan onthou dat ek die heeltyd probeer het om net nog slaappille in die hande te kry,” meen hy. “Ons het besluit dat ons my in die huis gaan toesluit en ek self gaan ophou. Ek is bevoorreg dat ek ondersteuning gehad het, maar ek weet nie almal wat hierheen kom het dit nie.”

Hy voeg by dat hy homself waarskynlik om die lewe sou bring as dit nie vir sy ondersteunende familie was nie.
Sanca Laeveld se uitvoerende hoof, Marina Erasmus, beaam hierdie punt.

“Ons het nog ‘n persoon verwys daardie week wat weggewys is omdat hulle nie van daardie omgewing af kom nie. Dit maak ons so kwaad dat sommige dokters nogsteeds nie besef dat verslawing ‘n siekte is nie.”

Volgens die Departement van Gesondheid se woordvoerder, Dumisani Malamule is dit elke burger se reg om billike behandeling en uitstekende gesondheidsdiens te ontvang. “Die departement veroordeel hierdie gedrag ten sterkste.”
Malamule het gesê dat hulle die voorval sal ondersoek, “sodat ander pasiënte nie soortgelyke trauma sal ondergaan as daar bewys word dat die bewerings waar is nie”.

Sedert 16 Septmber het hy egter nog geen antwoord gegee oor die ondersoek nie.

Gevare wanneer jy detokstifiseer sonder mediese hulp

Wanneer ‘n persoon verslaaf is aan hoogsverslawende middels of ‘n ernstige afhanklikheid van alkohol het, kan dit ernstige newe-effekte veroorsaak en in sommige gevalle selfs na die dood lei.

Die newe-effekte sluit in beroerte, onreëlmatige hartklop en kopseer in. Daarom gebruik detokssentrums ‘n spesifieke middel om die oorgang te vergemaklik en is dit noodsaaklik om by so ‘n sentrum opgeneem te word.

LEES OOK: Rhino poaching numbers decrease

Back to top button