Local newsNews

Lieg onder eed is verkeerd

Om 'n valse verklaring af te lê in die hof, ten opsigte van 'n gebeurtenis, kan jou lelik in die sop laat beland.

Mbombela – Meineed is die wederregtelike en opsetlike aflê van ‘n valse verklaring onder eed, opgelê deur ‘n persoon wat bevoeg is om die eed op te lê, welke verklaring in die loop van ‘n regsproses afgelê word en ter sake tot ‘n geskilpunt is.

Die misdaad kan slegs gepleeg word as die verklaring gemaak word in die loop van ‘n regsproses, wat ‘n siviele of strafregtelike geding kan wees. Die opstel van valse verklarings voor ‘n administratiewe tribunaal maak dus nie ‘n misdaad uit nie.

ALSO READ: WATCH Cage-diving with crocodiles

‘n Regsproses verwys na verrigtinge waarin regte en verpligtinge op ‘n juridiese wyse deur ‘n bevoegde liggaam bepaal word, na oorweging van die feite, soos byvoorbeeld verrigtinge in ‘n magistraatshof.

Meineed kan ook gepleeg word deur valse beëdigde verklarings te maak wat gebruik kan word in siviele mosieverrigtinge. Siviele verrigtinge onstaan wanneer ‘n persoon glo dat ‘n voordeel, geldelik of andersins, hom of haar toekom en dan ‘n dagvaarding uitreik teen ‘n ander persoon om die voordeel op te eis.

ALSO READ: Have your say on the proposed National Health Insurance Bill

In strafregtelike gedinge is die staat ‘n party en word ‘n persoon vervolg deur die staat wanneer ‘n misdaad gepleeg was.

Daar word aan die hand gedoen dat as ‘n verklaring nie tydens ‘n hofsaak afgelê word nie, dit wel as ‘n verklaring in die loop van ‘n regsproses beskou kan word, indien dit toegelaat mag word as getuienis tydens ’n latere verhoor. Die persoon wat die verklaring afneem moet wel die moontlikheid voorsien dat dit in ‘n latere verhoor gebruik kan word.

 

 

In die saak van (Lottering 1892 SC 199L) word Lottering aangekla van meineed.

Daar was gerugte dat die twee Smith-broers ‘n werknemer van hulle doodgemaak het en Lottering was van mening dat hy dit sien gebeur het. Lottering word gedagvaar om ‘n verklaring af te lê daaroor. In ‘n verklaring onder eed, verklaar hy dat hy gesien het hoe die twee broers die werknemer geskiet het, terwyl hy hulle om genade gesmeek het.

Die twee broers beweer dit is nie waar nie en bring die kamstige oorledene na die hof, sodat die landdros hom kan sien. Lottering word gevolglik skuldig bevind aan meineed, want die verklaring was afgeneem vir die doeleindes van geregtelike verrigtinge. Boonop was die landdros ook amptelik besig om getuienis bymekaar te maak vir ‘n latere strafregtelike verhoor.

Back to top button