Mbombela – Afpersing is die wederregtelike en opsetlike verkryging van ‘n voordeel, hetsy vermoënsregtelik of nie, van iemand anders, deur druk op ‘n slagoffer uit te oefen wat hom of haar beweeg tot afgifte van die voordeel.
Artikel 1 van die Algemene Regswysigingswet 139 van 1992 bepaal dat by strafregtelike verrigtinge waarby ‘n beskuldigde van afpersing aangekla word, dit voldoende is om te bewys dat enige voordeel afgepers is, hetsy die voordeel vermoënsregtelik is of nie. ‘n Vermoënsregtelike voordeel beteken ‘n voordeel wat geredelik in geldwaarde omgeskakel kan word.
ALSO READ: Three-year-old with cerebral palsy receives first wheelchair
Daar moet, net soos by roof, ‘n oorsaaklike verband wees tussen die uitoefening van druk en die verkryging van die voordeel. As die voordeel byvoorbeeld oorhandig word, nie as as gevolg van ‘n dreigement of die uitoefening van druk nie, maar omdat ‘n lokval vir X gestel is en Y wil hê dat die polisie X moet betrap en nie vir hom nie, word slegs poging tot afpersing gepleeg.
In die saak van (Jansen 1959 (1) SA 777 (K)) dreig Jansen die klaer dat hy hom sal aanrand as hy nie £50 aan hom oorbetaal nie en word toe skuldig bevind aan afpersing deur die hof. Jansen appelleer omdat die klagstaat nie beweer dat die voordeel onverskuldig was nie. Die hof sê klagstaat is voldoende en wys appel van die hand.
ALSO READ: Aanranding se elemente ontleed
Die dreigemente kan ook wees dat leed ‘n derde persoon toegevoeg gaan word en kan uitdruklik of stilswyend wees.
In die saak van (Lepheana 1956 (1) SA 337 (A)) is Lepheana ‘n polisiekonstabel. Hy arresteer ‘n vrou wat in die onwettige besit van ‘n alkoholbrousel is. Lepheana sê vir die vrou se man dat hy vir hom £10 moet gee, anders gaan hy haar summier aankla en sommer ook nog leed aandoen. Die man gee toe vir Lepheana die geld. ‘n Klag van afpersing word teen Lepheana gelê en hy word toe skuldig bevind aan die misdaad deur die hof.