Local newsNews

Dogtertjie met hartjie vol omgee benodig operasie om meer normale kinderlewe te hê

Lee-Ann Botha kan al mooi vir maatjies verduidelik wat 'n bloedvatgewas is.

WITRIVIER- Lee-Ann Botha is ‘n gewone klein dogtertjie, maar soms spot haar klasmaats haar.

Sy is met drie redelik groot hemangiome gebore. Dit is bloedvatgewasse wat haar gesin aanvanklik gehoop het sou verklein soos sy ouer raak, maar in Januarie moes sy grootskool toe, en dit is steeds baie opvallend.

“Lee-Ann is werklik ‘n spesiale dogtertjie met ‘n hartjie vol omgee en liefde.

Sy is lief vir maatjies en verstaan nie hoekom hulle soms lelik is met haar nie. Sy probeer al self vir hulle verduidelik dat dit ‘n gewas is,” vertel ma Jennifer.

“Die hartseer op haar gesiggie as sy moet vertel dat daar alweer met haar gespot was, breek my hart. Haar hartseer is ons hartseer, en ons wil dit probeer voorkom.”

Sy voeg by dat hulle haar nie uit die oog wil grootmaak of onderrig nie, want sy is normaal en verdien ‘n normale opvoeding tussen haar maats.

KYK OOK: Foeta Krige kuier by Pen in my Hand

“Sy is spontaan en vol geselsies, ons klein babbelbekkie. Ons vrees egter dat die spottery net erger sal raak soos sy ouer word, want kinders weet nie eens hoe wreed hulle kan wees nie, en dit sal sleg wees as die gespot haar karakter en menswees negatief beïnvloed.”

Die oplossing om twee van die drie vergroeisels te verwyder, kos wel geld wat die gesin op hierdie stadium nie het nie. Die kostes beloop sowat R40 000.

Om dit te probeer insamel, verkoop hulle boerewors en bak beskuit, en reël tans ‘n gelukkige trekking. Witrivier Pre-primêr het ook ingestem dat donasies vir Lee-Ann in hul rekening gedeponeer kan word.

Hulle poog om die fondse so gou as moontlik in te samel sodat Lee-Ann teen Kersfees gewas-vrye foto’s kan neem.

“Ons sal die prosedure in Mbombela kan laat doen en sodoende die reiskostes spaar van op en af ry Gauteng toe,” voeg Jennifer by.

“Met die operasie sal sy beslis kan uitsien na ‘n meer normale kinderlewe, sonder die ooglopende gewas op haar voorkop.”

Vir meer inligting, kontak Jennifer by 079-372-8845 of pa Wessel by 079-883-0204.

LEES OOK: Nationwide strike at SANParks

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button