Local newsNews

Jimmy Stonehouse maak sy hart oop oor ISG

Ontstuimige waters vir Pumas - afrigter vertel.

MBOMBELA – Toe ‘n vyfjaar-ooreenkoms verlede jaar met ISG Holdings gesluit is, was dit vir die Pumas soos ‘n sprokie.

“Die beste een wat ons nóg gehad het,” vertel ‘n bewoë en gespanne afrigter, Jimmy Stonehouse. “Daar was ‘n begroting, en ons kon links
en regs spelers werf – die bestes. Maar, alles het in ‘n oogwink in duie gestort. Ons wêreld is geskuif.”

Lees ook: Laeveldse broers gekies vir Bassmasters in Amerika

Die Pumas doen nou aansoek om ISG se likwidasie, weens die geld wat hulle geskuld word deur hul naamborg. Stonehouse het stemboodskappe aan Laevelder teruggespeel, waarin hy by Arnoux Maré, hoof- uitvoerende beampte van ISG, pleit om agterstallige geld te betaal. Maré het daarna geluister, maar nooit daarop reageer nie. ISG en Maré het in onlangse kommentaar teenoor Laevelder ontken dat hulle insolvent is en beweer dat likwidasie-hofdokumente nie op hulle beteken is nie.

“Vir maande het ek nagte wakker gelê. Ek het spelers met vroue en kinders, met skuld, wat betaal moet word. Waar gaan die geld vandaan kom?
“Aan die einde van elke maand, het ek begin stres, want ek het nie geweet hoe ek my spelers gaan betaal nie.”
Dit is bekend dat Stonehouse hand in eie sak moes steek sodat die unie salarisse kon betaal. Hy wou egter nie met die koerant hieroor praat nie.

“Ons moes bakhand voor mense staan, na werk rondry en planne beraam en borge gaan soek. Dié wat moes agterbly, se werkslading het verhoog.”
Dit was nie net uiters vernederend nie, maar dat dit tyd saam met sy span, “my span, my baby”, gesteel het.

Die impak was enorm. “Om ‘n voorbeeld te noem: ons moet ons oefenprogram so aanpas, om nie pleisters te mors nie. Na afloop van wedstryde, moes ons dieselfde aand met Citybug terugry – en 04:00 by die huis aankom. Die spelers slaap die hele dag, sukkel om Sondagaand te slaap, en Maandag moet hulle oefen. ”

Maar, daagliks het Stonehouse aan sy spelers belowe: “Nie een maand sal verbygaan, sonder dat julle jul salaris betyds sal kry nie.”
En Stonehouse en hoof uitvoerende beampte Pieter Burger het gedoen wat ook al dit verg. “Ek is dit aan hulle verskuldig; ek het aan hulle ‘n toekoms belowe.”
Soos sake met ISG verkrummel het, het die gerugte onder die spelers begin versprei. “Hulle was met goeie rede bang hulle kry nie hulle geld nie.”

Die “kontrakteringsvenster” vir 2020 het 1 Julie oopgemaak, en die unie kon as gevolg daarvan nog nie aktief met onderhandelinge begin nie. “Dit plaas baie druk op spelers, hulle gesinne en die afrigters, omdat hulle onsekerheid ervaar
oor ‘n tydperk waar hulle fokus en aandag op die Curriebeker moes wees.

“Die ergste is, ek kan niks daaraan doen nie – ek kan niemand werf nie. Uiteindelik gaan spelers weens onsekerheid begin loop; daar kan Vrydagmiddag spelers teen die Griffons uitdraf, wat al kontrakte by anders unies geteken het.” Laasgenoemde, ‘n relegasiewedstryd waarin die Pumas moontlik na die Curriebeker se eerste divisie kan afskuif, vererger sake.

Also read: Victory is vital as Pumas face Griffions tonight

“Ek haal egter my hoed af vir ons borge, goeie Samaritane, ondersteuners en , wat oor hul voete geval het om agter ons te staan.
“Of dié gemors waarin ons beland het, ‘n impak op ons spelers gehad het, weet ek nie – hulle het steeds goeie rugby gespeel.

“Ek bedank Pieter Burger en bestuur asook die spelers wat aanhou veg het in hierdie omstandighede. Ek wil ook my dank uitspreek aan ‘n ongelooflike man, Johan Pretorius van Phakisa Holdings.”

Phakisa Holdings kom tot die span se redding

Phakisa Holdings het aan die einde van 2018 aanboord gekom. Volgens die unie se hoof- uitvoerende beampte, Pieter Burger, het die maatskappy aanvanklik ook belangestel in die titelregte, maar ISG Holdings het skriftelik eerste bevestig dat hulle die regte opneem.
“Die onselfsugtige houding van Phakisa om ten spyte van omstandighede, nog steeds betrokke te raak is ‘n testament van die kaliber van die individu, Johan Pretorius, en organisasie waarmee ons te doen het. Dit is ‘n ongelooflike maatskappy en ons hoop om nog ‘n lang pad met hulle te stap,” het Burger gesê.

Hy sê dat die Pumas se kontantvloei onder ongelooflike druk geplaas is, en dat die unie heel moontlik ‘n agterstand as ‘n resultaat mag beleef.

“Tagtig persent van my vaste uitgawes is salaris-gebaseerd. Ons is in die vermaaklikheidsbedryf, en ek gaan
kontrakte aan met personeel en spelers in lyn met ‘n begroting en prosedure wat in plek is. Ons het ‘n verpligting teenoor daardie werknemers en hulle gesinne.

“Phakisa Holdings gaan nog diep spore trap en nog groter sukses behaal in die toekoms, en hulle verdien elke oomblik daarvan. Ek sê dit nie omdat dit ‘n borg is van die Pumas nie, maar omdat ek dit persoonlik ervaar het. Ek het baie respek vir Pretorius en dit wat hy en sy span vermag het. Sy ondersteuning en onselfsugtige deelname by die Pumas word opreg waardeer deur elke personeellid en speler.
“Sonder vennote soos hierdie en talle ander wat ons droom deel, sal ons eenvoudig nie kan bestaan en funskioneer nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Stefan de Villiers

Stefan de Villiers, based in Mbombela, Mpumalanga, is currently the Editor at Lowvelder. He brings a wealth of knowledge and experience from previous roles at Lowveld Media, such as Sports Editor, Journalist and Photographer. He started on November 1, 2013.
Back to top button