KYK: Alita Steenkamp en Stefaans Coetzee gesels oor nuwe boek

Hulle het by Laevelder se Pen in my Hand-geleentheid gesels.

MBOMBELA – Trane was sigbaar in gaste se oë toe Stefaans Coetzee Donderdagaand sy storie by Orange Restaurant vertel het.

Coetzee en Alita Steenkamp het met De Wet Potgieter gesels oor hul splinternuwe boek Wit Wolf: Die Worcester-bomplanter
se storie van bevryding.

Op 24 Desember in 1994 het Coetzee ‘n bom by die Shoprite-winkelsentrum in Worcester geplant. Ses mense is dood en
67 is beseer.

“Ek glo dat as die Here my kan vergewe, Hy enigiemand kan vergewe,”

het Coetzee, tot luide applous van die gehoor, vertel.

Vir Coetzee was die sterftes presies wat hy in daardie stadium wou hê, maar toe hy egter hoor dat kinders ook in die ontploffing gesterf het, het hy homself dadelik aan die polisie gaan oorgee. Hy ontvang 40 jaar tronkstraf, maar word in 2015 vrygelaat en poog vandaar om mense se lewens te verander.

LEES OOK: Pen in my Hand: Birders take flight

Potgieter skryf in die voorwoord dat Coetzee vir hom “die verpersoonliking van versoening in ons land is”.

“Sy lewensverhaal van swaarkry, verkeerde keuses en uiteindelike bevryding moet aan die wêreld vertel word as voorbeeld vir ons almal.”

Gedurende die gesprek het Coetzee vertel van die verhoudings wat hy in die tronk gehad het, met onder andere Eugene de Kock en Barend Strydom. Laasgenoemde het Coetzee by die Wit Wolf-bende betrek.

Dit het ook aan die lig gekom dat Coetzee in die tronk meer as 3 000 boeke gelees het, maar dat sommige van die ander gevangenisse dié wat lief was vir lees gekniehalter het.

“Hulle het byvoorbeeld die laaste hoofstuk van ‘n boek uitgeruk sodat ons nie die boek kon klaarmaak nie.”

Steenkamp het gesê dat sy gereeld haar trane moes wegsteek toe Coetzee sy storie met haar gedeel het.

“Op die einde van die dag het ek net vir haar gesê ek wil nie hê mense moet my jammer kry as hulle die boek lees nie, maar my ook nie as die held sien nie. Ek was skuldig en ek het dit so aanvaar.”

Hy het ook vertel dat dit sy grootste droom was om die Comrades marathon te voltooi en in 2016 het hy hierdie droom bewaarheid. Sy medalje het hy egter oorhandig aan een van die slagoffers wat die bomaanval oorleef het.

“Ek het dit aan haar oorhandig, want as dit nie was vir die feit dat sy my vergewe het nie, sou ek nooit die proses tot vergifnis begin het nie.”

LEES OOK: Pen in my Hand: Allan Heyl shares new book

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version