Local newsNews

Nasionale Krugerwildtuin se Duke word herenig met teenstroopeenheid se veldwagters

Die hond was vir ongeveer 24 uur alleen in die park.

HOUTBOSRAND – Min honde kan spog dat hulle op die ouderdom van net twee jaar reeds 15 stropers help vastrek het. Dié eer behoort wel aan ‘n baie spesiale brak, Duke, wat in Februarie by die teenstropingseenheid van die Nasionale Krugerwildtuin aangesluit het.

Dinsdag het hy tydens ‘n teenstrooppoging egter hasepad gekies en die hele wildtuin op hol gehad.

“‘n Skietery het tussen die stropers en die veldwagters uitgebreek. Duke het geskrik, uit sy harnas losgeruk en weggehardloop. In die proses het hy dit reggekry om sy opsporingstoestel te verloor en almal het regdeur Dinsdagaand na hom gesoek,”

verduidelik die bestuurder van die wildtuin se honde-eenheid, Johan de Beer.

LEES OOK: Boekverhaal omskep in ‘n uitmuntende radioproduksie

‘n Senior gids, Simon Vegters van Wild Wings Safaris, het egter vir Duke Woensdagoggend by die Nwaswitsontso-loep gevind, sowat 13 km vanwaar hy naby die Tshokwane-piekniekterrein weggeraak het.

Vegters was net betyds.

“Minute voordat ek Duke gevind het, het ek twee leeumannetjies op die rivierrand gesien, ongeveer 300 m vanwaar hy in die bosse geskuil het.”

Volgens Vegters het Duke gelukkig nader aan die pad beweeg.

“Hy was eers skrikkerig, maar toe ek hom op die naam roep het hy nader gehardloop.”

Vegters het Duke in sy safarivoertuig gelaai en aan die veldwagters terugbesorg. “Hulle was almal baie bly om hom te sien.”

LEES OOK: KNP uitvoerende bestuurder terug in die tuig

Duke is teruggeneem na sy tuiste by die Houtbosrandkamp en afgesien van sy amper noue ontkoming met die leeus, het hy ongedeerd van die situasie afgekom.

“Hy is ‘n baie groot aanwins vir die span en het sedert hy Februarie by ons aangesluit het, al sowat 15 stropers help vastrek,”

het De Beer bevestig.

dav_soft

Volgens hom word honde soos Duke al opgelei vandat hulle ses maande oud is.

“Die honde word gebruik om spore te volg en om stropers in die bos uit te snuffel.”

Volgens die wildtuin se woordvoerder, Sesane Mabuza, volg die honde die reuk van die stropers of selfs van die horing in die geval van renosterstropery. “Hulle het deur die jare ongelooflik bygedra tot die sukses van ons arrestasies,” het hy gesê.

Mabuza het ook bevestig dat hulle, met behulp van die honde, nege stroopverdagtes sedert 20 Julie vasgetrek het.

Die besturende direkteur van die park, Glenn Phillips, het bygevoeg dat hy gelukkig was dat Duke gevind is. “Ons is trots op julle prestasies in die verlede en ons salueer jul toewyding en dapperheid aan hierdie veldtog,” het hy oor die honde-eenheid gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button