Voormalige Laevelder word as Mej. Hooters Wêreld gekroon

Vlok, 'n oud-Nellie wat nou in Lynnwood in Pretoria woon, is onlangs as Mej. Hooters Wêreld 2019, by 'n glansgeleentheid in Lake Tahoe, Nevada, in die VSA gekroon.

MBOMBELA – Suid-Afrika het al menige internasionale skoonheidskoningin opgelewer. Anneline Kriel, Rolene Strauss, Demi-Leigh Peters, en nou ook Rochelle Vlok (24) hier uit die hartjie van Mbombela.

Vlok, ‘n oud-Nellie wat nou in Lynnwood in Pretoria woon, is onlangs as Mej. Hooters Wêreld 2019, by ‘n glansgeleentheid in Lake Tahoe, Nevada, in die VSA gekroon. Sy is ook ‘n 2019 Hooters Kalendermodel en derde wenner in Mej. Hooters Internasionaal.

Dit volg nadat sy in 2018 Mej. Hooters Suid-Afrika gewen en gekwalifiseer het. Weens haar loopbaan by dié wêreldbekende restaurant kan sy die koste van haar studies by Tuks te dek.

“Hooters is ‘n handelsmerk wat enige jongvrou se drome kan bewaarheid,” vertel sy. “Hulle werknemers se belange word altyd eerste gestel en in die vier jaar wat ek daar was, het hulle my op die hande gedra en my studies moontlik gemaak,” sê sy. “Hooters het my van Nelspruit af na die wêreld toe gevat, en ek het dus die wêreld aan my voete.”
Vlok, ‘n sogenaamde Hooters Girl by Hooters Willows Crossing, het in 2017 haar BCom verwerf en vanjaar haar honneurs in strategiese besigheidsbestuur deur Unisa voltooi.

“Ek het daar begin as ‘n gewone Hooters Girl en na my eerste graad is ek aangestel as ‘n gesertifiseerde opleier en deeltydse bestuurder,” het sy gesê.

“Hooters is wêreldwyd bekend en het restaurante in 27 lande. Die VSA alleen het honderde winkels. Vir die nasionale titel neem alle lande behalwe die VSA deel, maar vir die internasionale titel neem alle lande deel,” verduidelik sy, en voeg by dat sy hier die beste van enige buitelander nóg gevaar het.

“Hooters is ‘n restaurant wat daarin glo om ‘n guest-obsessed experience vir almal wat kies om by ons deure in te stap, te bied. Ons is nie net bekend vir ons oranje uniform nie, maar ook ons wêreldbekende hoendervlerkies,” sê sy.

“Vir die afgelope 35 jaar van die handelsmerk se bestaan is daar nog steeds ‘n stigma daaran gekoppel, terwyl hulle eintlik fokus op vrouebemagtiging,” het Vlok afgesluit.

Foto’s: Zac Grimaldo en Jaco Malan – DmPhotographic

Exit mobile version