Local newsNews

Ontmoet die man agter SA se grootste konserte

Lees meer oor Barry Pretorius.

MBOMBELA- Die befaamde vervaardiger en regisseur, Barry Pretorius se grootste inspirasie is om “magic te maak” vir ‘n gehoor. Elke liedjie is sy eie produksie binne ‘n groter konsert en elke konsert word vir ses maande tot ‘n jaar vooraf beplan.

Vanjaar se Saterdagaand-konsert by die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees is geen uitsondering nie. Dié konsert, wat vanjaar die kykNET-Verjaarsdagkonsert heet, beloof om feesgangers te betower.

Pretorius is al vir sewe jaar lank die regisseur van dié konsert waarvoor hy in 2017 en 2018 Fiësta-toekennings ontvang het. Vir hom is konserte van dié aard egter ‘n jare lange droom wat waar word.

LEES OOK: Toeka se humor laat gehoor skater

“Op skool was ek ‘n kultuurkraai en al wat ek wou doen is om rolprente en vertonings te vervaardig.”

Na skool het hy uitsaaijoernalistiek deur die SAUK studeer en by skole begin om revues bymekaar te bring.

“Vonk Musiek het my raakgesien en ek het vir vyf of ses jaar die Vonk-toekennings gedoen. Hieruit is die Ghoema-toekennings gebore en ek het daardie produksie ook vir vyf jaar behartig.”

Hy is ook die vervaardiger en regisseur van Afrikaans is Groot en was een van die kenners op kykNET se trefferreeks, Die Kontrak, “maar ek is baie lief vir Innibos”.

LEES OOK: Voormalige Laevelder word as Mej. Hooters Wêreld gekroon

Hy onthou met ‘n vonkel in sy oog ‘n oomblik uit sy eerste Innibos-konsert sewe jaar gelede toe Corlia Botha en Joseph Clarke “Barcelona” gesing het. Ander oomblikke wat ook vir hom uitstaan is toe die 2015 groep-item waar al die betrokke kunstenaars “Circle of Life” gesing het, en ook toe Theuns Jordaan verlede jaar ‘n hoendervleis-oomblik geskep het met “Sproeitjies”.

Hy is baie opgewonde oor vanjaar se konsert. Oudergewoonte sal hy vir die gehoor “geskenkies” bied – verrassings wat nie op die program verskyn nie. Hy wil uiteraard nie alles uitlap nie, maar bied wel ‘n paar stukkies aas.

“Vir die heel eerste keer het ons professionele dansers en ook ‘n Kaapse Klopse-orkes wat optree. Vir my gaan dit egter nie oor die toekennings nie, maar oor die magic wat jy na die gehoor bring en die ongelooflike, verslawende gevoel wat jy kry wanneer dit hulle tref.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button