Local newsNews

Die tafel is gedek vir ’n fees van Suid-Afrikaanse musiek

Die dag het uiteindelik aangebreek vir die jaarlikse Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees en die hele stad is aan die gons oor hierdie skouspel. Die Vodacom/Laevelder Arena-verhoog is propvol gelaai met bekende kunstenaars wat die vermaak gaan voorsien.

Besoekers van heinde en verre besoek graag elke jaar dié fees wat nooit teleurstel nie. Bykomend tot die fees en beslis ‘n welkome byvoeging, is die KMI Airport-verhoog waar talle kunstenaars optree en luisteraars vuurwarm met hul musiek sal laat voel.

Vanjaar tree onder andere Blerrie Berrie, Hennie de Bruyn en die Kitaarkêrels en Marcato op hierdie verhoog op. De Bruyn vertel: “Ons is baie dankbaar en bevoorreg om na hierdie jaar se Innibos genooi te wees. Dit beteken baie vir ons en ons sien uit daarna om ons musiek vir die luisteraars te speel.”

Die groep bestaan uit ‘n driemanskap wat die snare tokkel en die skare aan die dans sal kry met hulle eg Afrikaanse musiek.

Berrie Blerrie bied unieke musiek wat ‘n humoristiese en energieke blik op Suid-Afrika bied. Hy sê: “Ek gaan die meeste van my eie liedjies speel en maak musiek met ‘n ukulele. Dis ‘n eg Afrikaanse lewering van tong-in-die-kies-musiek wat luisteraars gaan lat skater van die lag.”

Die program is allesbehalwe vervelig en baie verskillende genres vir die tipiese Suid-Afrikaanse musiekliefhebber is op die spyskaart. Marcato is ook weer aan die beurt vanjaar. “Dit is ons tweede Innibos. Dis altyd lekker om daar te wees en ons sien verskriklik baie uit daarna om ons musiek met die mense te deel,” sê hulle.

Met die kookwaterkunstenaars op die verhoog waarborg die fees witwarm vermaak vir feesgangers.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button