Local newsNews

KNP uitvoerende bestuurder terug in die tuig

'n Ondersoek is afgehandel en 'n verslag daaroor aan die hoof-uitvoerende beampte van SANParke oorhandig.

SKUKUZA – Die uitvoerende bestuurder van die Nasionale Krugerwildtuin, Glenn Phillips, is terug op sy pos.

Isaac Phaahla, die wildtuin se woord-voerder het bevestig dat Phillips, wie sedert vroeg in Mei met verlof was, verlede week diens hervat het.

Hoewel hy ontken dat Phillips se verlof enigiets te doen het met ‘n onafhanklike ondersoek oor beweerde rassisme en viktimisering van sekere werknemers in die park, het hy bevestig dat so ‘n ondersoek wel van stapel gestuur is.

Hoewel Phaahla hom ook nie veel oor die ondersoek self, en deur wie dit gelei is, wou uitlaat nie, is die naam van adv. Boyce Mkhize in ander media in dié verband genoem.

Phaahla het wel gesê dat die ondersoek afgehandel is en ‘n verslag daaroor aan die hoof-uitvoerende beampte van SANParke oorhandig sal word.

Of die uitslag aan die publiek bekend-gemaak sal word, is egter ook nog ‘n ope vraag. “Die ondersoek behels verskeie partye en is ‘n interne aangeleentheid, dus sal die hoof-uitvoerende beampte volgens sy eie diskresie handel in so ‘n besluit,” het Phaahla gesê.

Bewerings van wydverspreide rassisme en arbitrêre “marteling” van swart personeel in die wildtuin is onlangs deur ‘n Engelse weekblad gepubliseer. Swart werknemers het glo gekla oor aanranding en dat van hulle soms sonder bewyse van renosterstropery aangekla word.

SANParke het sulke bewerings herhaaldelik ontken en gesê dat voldoende dissiplinêre prosesse in al daardie gevalle gevolg is.

Back to top button