VIDEO EN FOTO’S: Care Buddies deel vreugde by Silwerdae

Die organisasie het die tehuis verlede week besoek.

WATERVAL BOVEN – As ‘n mens vir tannie Susan Visser vra hoe dit gaan, kom haar antwoord dadelik: “Arm, maar geduldig”.

Sy is een van die inwoners van SAVF Silwerdae-tehuis wat Woensdag deur die Nelspruit Care Buddies bederf is.

“Ons is tog so bly as hier mense kom. Twee jaar gelede het hier baie meer mense kom kuier, maar nou is dit stil,”

vertel tannie Susan.

Laevelder het al voorheen berig oor die kosskaarstes wat daar by die tehuis geheers het, maar danksy organisasies soos dié en individue gaan dit al baie beter.

LEES OOK: Care Buddies gee terug aan meer as 500 mense

“Ons kry baie ondersteuning van die gemeenskap en is baie afhanklik daarvan,” het Gail Fish, bestuurer van SAVF Silwerdae laat hoor. Sy was ook dankbaar vir die Care Buddies se besoek. Die organisasie het ‘n saamsinggeleentheid vir die inwoners gehou. Hier het hulle treffers soos “Sarie Marais” en “My Bonny Lies Over The Ocean” gesing.

Een van die inwoners, oom Christo Smit, was so opgewonde oor die musiek dat hy die tehuis se sister, Sonya Stoltz, gegryp het vir ‘n dans. Na die opwinding is die inwoners bederf met ‘n heerlike bord kos en malvapoeding. Elkeen het ook ‘n geskenkie met toiletware ontvang.

LEES OOK: FOTO’S EN VIDEO: Die Care Buddies bring glimlagte na Alzheimer pasiënte

“Dit is die laaste van die toiletware wat ons verlede jaar ingesamel het en ons is so bly om dit vandag hier te kom uitdeel. Dit klink dalk na iets eenvoudig, maar dit is iets waarvoor hulle nie altyd geld het nie,”

het Meisie Barnard, voorsitter van die Nelspruit Care Buddies gesê. Enigeen wat ‘n bydrae tot die tehuis wil maak kan Fish kontak by 013-257-0478.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version