Sonkragpompe is n baie aantreklike opsie vir boere

Massaproduksie van sonpanele het die koste afgebring na minder as R10 per watt, teenoor sowat R30 per watt in 2010. Daarom maak dit al hoe meer sin om sonkrag in te span.

Die gebruik van boorgatpompe wat deur sonkrag aangedryf word, is deesdae ‘n algemene verskynsel op plase regdeur Suid-Afrika.

Hoewel boere al baie jare lank sonpompe gebruik, veral in verafgeleë gebiede waar Eskom-krag nie beskikbaar is nie, het die gebruik daarvan die afgelope paar jaar met rasse skrede toegeneem.

Die belangrikste redes hiervoor is die wêreldwye uitbreiding van die sonkragbedryf en die gevolglike toename in die produksie van sonpanele, wat veroorsaak het dat pryse die afgelope dekade dramaties gedaal het.

ALSO READ:Research proves all stink bugs are potential macadamia nut pests

Sonpompe is baie meer bekostigbaar as ‘n paar jaar gelede. Die beskikbaarheid en verskeidenheid hiervan het uitgebrei. Waar die aanbod in die verlede beperk was tot enkele handelsmerke, het boere vandag ‘n wye verskeidenheid van verskaffers en verskillende tipes om van te kies.

‘n Groot persentasie van Suid-Afrika se windpompe bereik nou die einde van hul leeftyd en onderhoudskoste daarvan raak hoog.

Baie boere vervang hul windpompe met sonpompe wat goedkoper is, minder arbeidsintensief is en waarvan die onderhoudskoste laer as dié van ‘n windpomp is.

Verder het die grootste dele van Suid-Afrika se binneland meer konstante son as wind, wat lei tot ‘n toename in die gebruik.

Stygende brandstofpryse en elektrisiteitstariewe, tesame met groter omgewingsbewustheid, veroorsaak dat daar toenemend van hernubare energieprodukte gebruik gemaak word.

Die volgende tipes sonpompe is algemeen in gebruik in Suid-Afrika:

Diafragma-tipe gelykstroompompe

Hierdie pompe is in die verlede baie gebruik omdat verskeie handelsmerke in die mark beskikbaar was, dit relatief bekostigbaar was in vergelyking met ander produkte en dit maklik geïnstalleer word (die meeste van die kleiner pompe koppel direk aan een sonpaneel).

Daar word steeds ‘n verskeidenheid – van wisselende gehalte – van hierdie pompe ingevoer en plaaslik vervaardig. Die meeste boere wat ondervinding daarmee het, sal egter saamstem dat dit nie ‘n volhoubare oplossing bied nie – dit vereis meer onderhoud en het ‘n korter leeftyd as ander produkte wat tans beskikbaar is.

Borsellose gelykstrooompompe

Die gebruik hiervan het meer onlangs in Suid-Afrika posgevat en dit word allerweë beskou as ‘n verbetering op die diafragma-tipe pompe.

Hierdie pompe word algaande meer betroubaar en neem in gewildheid toe. Dit is veral die kleiner reeks (onder 1 000 watt) wat op die monopompbeginsel werk, wat tans op groot skaal vanaf die Ooste ingevoer word.

Dit is veral effektief wanneer ‘n klein hoeveelheid water teen hoë druk benodig word, byvoorbeeld vir diep boorgate met swak water.

Tradisionele wisselstroomsonpompe

Daar is ‘n hele aantal bekende internasionale maatskappye wat al vir jare volledige sonpompreekse in Suid-Afrika aanbied, wat gelykstroom vanaf die sonpanele omskakel na wisselstroom.

Verskillende pompmeganismes word dan aangewend, insluitend mono- en sentrifugale-pompmeganismes. By sekere vervaardigers is die elektronika ‘n integrale deel van die pomp wat in die boorgat afgesak word.

By ander vervaardigers word die elektronika in ‘n aparte kontrolekas naby die sonpanele gehuisves. Hierdie pompe is oor die algemeen baie effektief en van hoogstaande gehalte.

Verder bevat dit intelligente elektronika wat baie opsies en wye gelykstroominvoerspannings toelaat, wat dit aanpasbaar maak met meeste tipes sonpanele. Dit is egter relatief duur en die herstelkoste daarvan is hoog.

Normale dompelpompe met varieerbare spoedaandrywing (VSD)

Die gebruik van normale wisselstroomdompelpompe wat omgeskakel word na sonkrag deur middel van generiese VSD, het die afgelope paar jaar baie toegeneem in gewildheid.

Dit behels die gebruik van beproefde, betroubare en goedkoop toerusting (standaard dompelpomp) wat deur sonpanele aangedryf word.

Verder maak die modulêre samestelling van die sonpanele, VSD, die motor en die pomp probleemoplossing oor die langtermyn relatief maklik en goedkoop, aangesien elke komponent individueel herstel of vervang kan word indien nodig.

Daar moet egter in ag geneem word dat ‘n sonpomp vir groot dele van die dag nie teen volspoed werk nie. Die stelsel moet dus so ontwerp word dat die pomp selfs teen laer spoed die nodige volume en druk lewer, veral wanneer die pomp direk in ‘n besproeiingstoepassing aangewend word.

Die samestelling van hierdie komponente moet deur iemand met voldoende kennis gedoen word om die effektiewe werking van die stelsel te verseker.

Die aankoop van ‘n sonpomp is soos enige ander sonkragbelegging langtermyn, wat ‘n relatiewe groot kapitale uitleg vereis.

Dit is veral in die volgende omstandighede waar sonpompe groot voordeel vir boere inhou: wanneer daar ‘n Eskom-punt op die plaas is wat net ‘n boorgatpomp diens.

Hierdie punt kan dan gekanselleer word met die installasie van ‘n sonpomp en sodoende sal die besparing van die maandelikse lynfooie bykomende voordeel vir die boer inhou.

Waar diesel- of petrolkragopwekkers nog gebruik word om boorgatpompe aan te dryf, is dit ideaal om ‘n sonpomp te installeer wat ‘n maandelikse besparing aan brandstof sal teweegbring en ook baie tyd en moeite sal bespaar.

Wanneer ‘n nuwe boorgat gesink word wat nie naby ‘n bestaande kragpunt is nie, is dit meer voordelig om ‘n sonpomp te installeer as om die uitgawe aan te gaan om elektrisiteit na die boorgat aan te lê.

Soos vroeër genoem, is baie van Suid-Afrika se windpompe al oud en word onderhoudskoste daarvan hoog. Baie boere sal, wanneer die windpomp weer breek en daar weer geld aan gespandeer moet word, eerder hierdie geld bestee aan ‘n nuwe sonpomp.

Die volgende faktore moet in ag geneem word met die aankoop van ‘n sonpomp: Die gehalte van die produk is natuurlik belangrik.

Dit is nie realisties om jarelange onderhoudsvrye diens te verwag van ‘n swak produk nie. Die kapitale uitleg van verskillende produkte moet vergelyk word met die hoeveelheid water wat elk teen ‘n sekere kophoogte kan pomp.

Dit is belangrik om ‘n sonpomp by ‘n gevestigde en betroubare verskaffer aan te koop wat beskikbaar sal wees om enige probleme te help oplos wat dalk mag opduik.

Hoewel daar ‘n verskeidenheid goeie gehalte produkte in die mark beskikbaar is, sal elke sonpomp een of ander tyd herstel moet word, as gevolg van normale slytasie of ‘n insident soos weerligskade.

Dit is dus belangrik om die proses van onderhoud, asook die onderhoudskoste van produkte met mekaar te vergelyk. Diefstal van sonpanele bly ‘n uitdaging waarmee rekening gehou moet word.

Boere maak verskillende planne om sonpanele te beveilig, soos om dit in ‘n raam vas te sweis wat dit bykans onmoontlik maak om die panele te verwyder sonder om hulle te beskadig.

Alarmstelsels is ook beskikbaar wat ‘n boodskap na ‘n selfoon stuur sodra daar beweging op die panele registreer.

Fotos: Verskaf deur Cedar Pumps. Sien ook Cedar Pumps se advertensie in hierdie uitgawe.

ALSO READ:Discover first 50 years of our botanical garden

Exit mobile version