Local newsNews

Talentkompetisie bring hoop vir Jordan en Claudia

Die Jordan & Claudia Fundraiser is verlede Saterdag by Bundu Lodge gehou.

MBOMBELA – “Elke mens het ‘n storie, elke mens het seer.” Dié lirieke van Elvis Blue se liedjie, gesing deur Anton van Zyl, was een van vele wat dié kunstenaar Saterdagoggend by die Jordan & Claudia Fundraiser by Bundu Lodge laat hoor het.

Die gesinsdag is gereël om tot die twee kleuters, Jordan Coertzen en Claudia du Preez, wat altwee aan serebrale verlamming ly, se mediese kostes by te dra.

Anri Pouw.

Hulle ouers het besluit om die dag ‘n talentkompetisie te hou. Twaalf kunstenaars het ingeskryf en gekompeteer in dans, instrumentale musiek en sang. Die beoordelaars was die sangers Coenie Naude en Sania Lemmer wat self ook opgetree het.

Die algehele wenner van die dag was die sanger Christoph Mans en hy het twee nagte se verblyf by Birdsong Africa Lodge in Marlothpark, ‘n Rhodes-geskenkpak en ‘n pizza-geskenkbewys gewen.

Anton van Zyl.

Jordan is op 30 weke gebore en het al ses operasies gehad. “Hy is nou vyf jaar en twee weke oud,” vertel sy ma Teresa tranerig. “Die dokters het vir ons gesê hy sal nooit ouer as 10 jaar word nie so elke verjaardag is baie kosbaar.”

Nadat hy te vroeg gebore is, het hy meningitis in die intensiewesorgeenheid opgedoen en hy is sedertdien met serebrale verlamming gediagnoseer.

Teresa se volgende plan is om te probeer om Jordan se sig te herstel. Ek glo as hy kan sien gaan hy wil lewe.”

LEES OOK: Altyd ruimte vir kinders in die kunste kollig

“Ons is so dankbaar vir almal wat vandag gekom het om ons te ondersteun, ten spyte van die slegte weer,” het Claudia se ma, Jolene gesê en net so emosioneel soos Teresa haar dogtertjie se storie gedeel.

Teresa en Jordan Coertzen.

Vir Claudia, nou 23 maande oud, is daar nog nie ‘n vasgestelde diagnose nie, maar sy het op drie maande haar eerste MRI-skandering gehad. “Om dit eenvoudig te stel, die witstoffies in haar brein ontwikkel te stadig en haar brein kommunikeer nie voldoende met haar liggaam nie.”

Sy sal na verwagting in September amptelik gediagnoseer word.
Dit is hier waar Elvis Blue se lirieke weer in ‘n mens se hart opkom: “Elke mens het ‘n storie, elke mens het seer.”

Jolene, Claudia en Cornelius du Preez.

Om ‘n bydrae te maak om die kleuters se stryd te help verlig kan Jolene gekontak word by 072-642-1599 of Teresa
by 060-719-1947.

LEES OOK: Jong sangers laat hul klokhelder stemme weerklink

Back to top button