Suid-Afrika se Snorseun kom na Innibos

Snorseun is Saterdag 30 Junie om 15:00 by Lowveld High School te sien.

MBOMBELA – Met sy eiesoortige truie, kunstige snor en vlymskerp humor het die komediant en akteur Schalk Bezuidenhout in ‘n baie kort tydjie volksbesit geword.

Na die sukses van sy vorige eenmanvertoning Voksbesit, toer hy nou die land met sy nuutste stuk Snorseun wat vanjaar ook ‘n draai op die Innibos-verhoog kom maak.

“Ek het gegroei as ‘n persoon en ‘n komediant en so groei my materiaal vir my vertonings ook,” het hy vir Laevelder gesê. “My eerste doel is om mense te laat lag meer as wat hulle gedink het hulle kan, maar ek wil ook hê mense moet my leer ken.”

LEES OOK: Van Janneman tot Soebatsfontein druk Franci haar stempel af

Bezuidenhout erken dat sy eie skaamthede vir ‘n paar snaakse oomblikke in die stuk sorg. “Ek speel oop kaarte met mense. Ek praat oor die goed waarop ek nie noodwendig trots is nie, oor aktuele sake asook die kwessies wat my na aan die hart lê.” Maar moenie dink hierdie eenmanvertoning gaan ‘n tranetrekker wees nie.

“As mense gedink het die vorige stuk was snaaks, gaan hulle mal wees oor hierdie een,” meen Bezuidenhout.

Hy het ook nou sy eie nuussatireprogram op kykNET genaamd Die Ware Naarheid waar hy die spot dryf met aktuele nuusgebeure en die Afrikaanse milieu.”Daar is baie kritiek oor die program, maar ons is nie daarop uit om mense kwaad te maak nie. Aan die einde van die dag raak ek ontsteld wanneer ek die negatiewe goed lees, maar as ek in die aande gaan slaap, is ek trots op dit wat ek op die program sê.”Hy voeg by dat sy artistieke integriteit vir hom belangriker is as die kommentaar.

LEES OOK: Dié krullebol sit die ‘skerp’ in ‘skerpskerts’

• Snorseun is Saterdag 30 Junie om 15:00 by Lowveld High School te sien. Kaartjies kos R132 en die vertoning is nie geskik vir persone onder die ouderdom van 14 nie. Bezuidenhout is ook 28 Junie te sien by Netwerk24 Gesprekreeks oor Afrikaanse komedie en op 29 Junie by die Komedie-Crawl.

 

Exit mobile version