Local newsNews

‘n Rondomtaliespel van twee anti-pole

Barry van Rensburg wat vanaf sy debuutverhoogstuk van 2012, Annale van 'n Windgat, skynbaar en heel begryplik rooimierplae moet verduur wanneer hy níé skryf nie, het 'n buitengewone konsep beet met sy jongste komedie, Antie Pohl.

Antie Pohl, deur Barry van Rensburg
Met: Sorina Erasmus, Cobus Venter
Regie: Neels Clasen
Al sy stukke tot op datum was heilsame antidote teen voorspelbaarheid. Elke stuk het ook brokke mensekennis bevat wat as ‘n korrektief teen – gaap en nogmaals ‘n gaap – voorspelbare, geykte mensetipes beskou kan word.

Natuurlik is dit ‘n heerlikheid om die seldsame ervaring te kan hê om ‘n briljant geskrewe komedie te sien waaraan nóg ‘n element of twee toegevoeg word wat dit voortreflik maak: Plus ‘n knap, wakker regisseur wat sy akteurs as individue inspireer, maar hulle as ‘n ensemble selfs tot só ‘n eenheid saamsnoer, dat die bykans onmoontlike aan’t gebeur is.

Kyk na Van Rensburg se jongste se titel, die spelling daarvan en die Engelse beskrywing van die “agony aunt” wat maandeliks of soms selfs weekliks mense se geheime lewens op ‘n skinkbord uitstal, dit analiseer en aan die hele wêreld haar raad aan’t uitbasuin is.

Die dramaturg het in sy lewe as predikant waarskynlik baie te doen gekry met paartjies wat as teenpole van mekaar hul huwelik moes deel. Verander jy, of pas jy jouself bloot daarby aan om meer soos jou huweliksmaat te wil word? Wat as die beste bedoelings nie uitwerk nie? Gee jy tou op?

Lees meerSit die bal aan die rol met Huisgenoot

In talle tonele wat deur byna ‘n totaal van ‘n paar dosyn verskillende karakters besaai word, speel Sorina Erasmus van 7de Laan-faam die titelrol wat sentraal aan die uitbouing van die komedie is. S

y is die aartskonserwatiewe dame wat ál die aandag geniet van mense wat mekaar aantrek en/of afstoot rondom selfs soms vermeende bipolêre gemoedsteurnisse.

Gelukkig word totaal niks hier ooit so ernstig as wat ‘n mens sou kon vermoed het nie. Dit word ‘n rondomtaliespel van mense wat skaars bymekaar hoort, maar tog voortleef met al die pro- en kontra-elemente wat hul lewensmaats na vore bring.

Antie Pohl se man wat ons nooit sien nie, maar wel hoor, se naam is Arnoldus. Hy geniet dit terdeë om sy vrou van stuitige raad te bedien – veral die soort wat haar laat bloos. Cobus Venter speel daardie rol en die talle ander met fyn waarnemings ten opsigte van gesig- en liggaamspel en skep elke keer ook ‘n totaal afgeronde psigiese persoonlikheid en teenwoordigheid.

Antie Pohl speel teen ‘n soms rasende tempo soos wat Erasmus en Venter van die een na die ander paartjie moet verklee. Dit is ‘n stuk wat ook energie op ‘n veel hoër vlak plaas as selfs die deursnee klug.

Lees meer: Innibos Kuns-in-beweging-Parade 2018

Neels Clasen, die regisseur ontsluit dit alles van sy twee spelers met sy leiding wat van groot kundigheid en ervaring spreek.

Teen die einde is daar een toneel wat uitermate ernstig is, maar dan ook só aangrypend geskryf en met perfekte pouses, infleksies en emosioneel so lewenseg daargestel is, dat dit jou emosioneel dreineer. ‘n Mens kan dit eintlik ook nie genoeg benadruk nie, hoe outentiek dié aangrypende dialoog vol kwellings die kyker se binnenste sal raak nie.

Antie Pohl is Van Rensburg se meesterstuk, maar ‘n mens twyfel nie daaraan dat hy die potensiaal besit om nog ‘n paar van hulle hierby te voeg nie. Bravo!
• Donderdag 28 Junie om 18:00, Vrydag 29 Junie om 09:00 en Saterdag 30 Junie om 13:00 by Bergland Laerskool. Tydsduur: 70 minute. Prys: R142.

Back to top button