Local newsNews

Dié krullebol sit die ‘skerp’ in ‘skerpskerts’

Jou image moet ook net nie bots met iemand anders s'n nie, want sou dit gebeur, slip 'n slide jy vinnig ondertoe op die ranglys. En niemand wil óóit dáár beland nie...

Snorseun, deur Schalk Bezuidenhout
Met: Schalk Bezuidenhout
Regie: Schalk Bezuidenhout

Die kanse is maar min dat dit met Schalk Bezuidenhout sal gebeur, want hy is op die einde van die dag immers een van Kempton Park se bekendste uitvoerprodukte. So ampertjies het Charlize Theron vir Schalk die loef afgesteek, maar sy is van Benoni – gelukkig aan die anderkant van OR Tambo-lughawe se aanloopbaan.

En as ‘n mens statistieke durf glo, word daar in Kempton minder geskiet as in Benoni.

Krullebol Schalk met sy kleurryke ontwerperstruitjies wat hy self sê vir hom mooi is omdat hulle anders lyk as sê maar die Pep Stores specials, het intussen sy eerste boek in samewerking met sy vervaardiger, Erns Grundling, gepubliseer. Dit dra dan ook die gepaste naam Truitjie roer my nie.

Sy eenmanvertoning by Innibos, Snorseun, is ‘n lekker oesjaarproduksie en is so effens soeter en sagter op die tong as een van sy voriges wat ek, as ek reg onthou, ‘n ruk gelede by Woordfees ervaar het. Maar ‘n ware softy sal hy nooit word nie. En hoewel hy sê wat gesê moet word, is dit veral sy gehoor se reaksies wat hom in ‘n ander rigting stuur.

Lees meer: Van Janneman tot Soebatsfontein druk Franci haar stempel af

Toe hy afgelope Donderdagaand sy tweede vertoning daarvan in Pretoria se Atterbury-teater lewer, toe vra hy nadat hy kort tevore uitgegewei het oor sy jeug in sy tuisdorp, sy vriende en ouers wat daar woon, waar die gehoor vandaan kom.

Toe een man Waterkloof skree en Schalk daarop reageer deur net die Waterkloof-vier te noem, het daar ‘n aanvoelbare skok deur die teater getrek. Omtrent elke paartjie teenwoordig het mekaar met verbasing in die oë gekyk.

Nou reeds begryp ‘n mens waarom hy as komediant én kommentator genoeg ervaring besit om ‘n wêreldfiguur soos ons eie Trevor Noah se voorprogram te vul, sonder dat énigiemand ooit sal durf protesteer.

Bezuidenhout spreek regstreeks ons eietydse Z-generasie se verteen-woordigers aan wat heeltemal anders grootgeword het as al die vorige generasies. Hulle menings is des te meer geldig en bo verdenking as baie ouer geslagte s’n wat die dwangbuise wat op hulle afgedwing is, selfs nóú nog probeer verwerk.

Hierdie snorseun sê soveel meer as wat bloot net gesê kon word. Hy verteenwoordig en verwoord die stem van die toekoms, of jy nou daarvan hou of nie.

Lees meerInnibos Kuns-in-beweging-Parade 2018

Hy het deur sy meerderheid lekker vertellings, beskouings, impulsiewe reaksies en loslittige verbale syspronge merendeels oortuig.

Tog moet hy bedag daarop wees dat hy as alleenstaande komediant, soos by sy onlangse optrede in Pretoria, baie maklik sy gehoor stadig maar seker kan begin verloor.

Dit het so ná die eerste 20 minute begin gebeur vanweë die aanvanklike wegspringtempo wat hy moeilik kon volhou. Dit word daarna ‘n komplekse taak om die eens gedrewe geestigheid te herstel.

Talent is daar in oorvloed en, wie weet, dalk bring Innibos en Mbombela die heel beste in Bezuidenhout na vore.
Saterdag 30 Junie om 15:00 by
Lowveld High School. Geen o/14.
Tydsduur: 80 minute. Prys: R132.

Back to top button