Vurige rooikop in Carmen onder die sterre

Hierdie gewilde opera kom in Mei na die Laeveld en is die eerste buitelug opera wat na die Laeveld kom.

MBOMBELA – Carmen was nog altyd haar droomrol, erken Linette van der Merwe. “Elke liewe mezzosopraan het iewers in haar lewe een van hierdie opera se liedjies in haar repertoire.”Van der Merwe vertolk die titelrol in Carmen wat op 27 en 28 Mei tydens ‘n buitelugskouspel op die planke sal wees.

“Carmen is jou tipiese wêreldwyse sigeuner wat wil kom en gaan soos sy wil. Sy hou nie van beperkings nie en is vreeslik hardkoppig.”

Van der Merwe meen dit is iets wat sy en die karakter in gemeen het. “Ek kan ook maar lekker hardkoppig wees,” sê sy skertsend, “Maar ons albei staan by dit waarin ons glo.

“Ek sing al vandat ek kan onthou. Toe ek klein was, was my ma deel van ‘n amateuroperette geselskap en my pa het ‘n klap van die drama weg gehad. Om op te tree is maar in my gene.”

Sy is tans ‘n dosent by die Universiteit van Pretoria en is betrokke by onderwysgeletterdheid asook taalmetodologie. Van der Merwe het vele rolle op haar kerfstok, onder meer die beroemde Flora in La Traviata.

Lees ook: Melodies soothe the soul at Woodenways

 
Om haar karakter beter te vertolk meen sy jy moet die persoon word wie jy vertolk. “Met ‘n opera in ‘n ander taal is dit ook belangrik om te weet wat jy sing sodat jy die rol oortuiglik kan speel.

“Ek doen baie navorsing voordat ek ‘n rol aanpak en luister ook na verskillende vertolkings van die rol om ‘n idee te kry van wie die karakter is.”

Sy is opgewonde oor haar optrede hier in die Laeveld. “Ek het al baie saam met die Lowveld Chamber Music Association opgetree en put altyd genot daaruit.

“Ek is altyd gelukkig, net solank ek kan sing.”

• Die vertoning vind by Umbali plaas. Kaartjies kan bespreek word by www.quicket.co.za en pryse wissel van R80 tot R130. Bespreek nou om teleurstelling te voorkom.

Lees ook: Open air opera first in the Lowveld

Exit mobile version