Ashley het atletiekkringe aan die gons

Ashely Erasmus soek 14 meter op haar kerfstok.

Saterdag 18 November. Subjeug Interprovinsiale kampioenskappe, Pilditch Stadion, Pretoria. ‘n Nuwe persoonlike beste afstand: 12,41m.
Met ‘n prestasie soos dié is dit nie verbasend dat Ashley Erasmus, ‘n gr. 6-leerder van Laerskool Nelsprui,t reeds die atletiekkringe aan die gons het nie.
Daardie dag in die Jakarandastad het sy haar vorige afstand van 11,40m met amper ‘n meter verbeter – en dit vir dogters o/13.
Haar afstande wat sy van o/10 tot o/12 gestoot het, staan steeds in die interlaeratletiekbyeenkomste, asook in Mussas se boeke geskryf.
By die Obaro Interlaeratletiekbyeenkoms, het sy die eerste rekord van die dag in gewigstoot opgestel. Haar afstand van 11,30m was 962 punte op die ABSA-tabel werd.
“Ek het nie eens geweet wat die item behels nie. Ek het as sewe-jarige vir die eerste keer tydens Nellies se interhuisbyeenkoms aan ‘n ysterbal gevat. My pa het gesê dat ek twee tree moet gee en dan stoot. Met my eerste probeerslag, het ek tweede gekom. Ek het toe vir myself gesê nooit weer sal ek met ‘n silwermedalje tevrede wees nie.”
‘n Dag voor vanjaar se Suid-Afrikaanse Skolekampioenskappe by die Kennith McArthur-stadion in Potchefstroom is sy in die hospitaal vir voedselvergiftiging opgeneem. Ten spyte daarvan het sy die maatband op 11,40m laat uittrek.
“Ek was teleurgesteld. Veral omdat ek verlede jaar die SA titel verower het.”
In 2016 was sy nommer 13 onder ASA se top-50 atlete in alle items asook ouderdomsgroepe. Daardie jaar het sy ook die toekenning vir SA se beste dogterveldatleet ontvang.
Haar pa en afrigter, Lourens was self op sy dae ‘n kranige atleet en het die provinsie vir 12 agtereenvolgende jare op nasionale vlak verteenwoordig.
“Haar toekoms lyk belowend. Sy het vanjaar vir die eerste keer kompeterend aan diskus begin deelneem. Ons het reeds aandag aan spiesgooi gegee. Sy oefen met my sussie se spies wat donkiejare oud is – seker vier keer so oud as Ashley,” vertel Lourens.
Lourens het ‘n afrigtingskliniek by die diskus- en gewigstootspesialis van Moot Atletiekakademie, Janita Eva bygewoon.
Eva kweek tans een van die land se mees opwindende atlete, Liam Pavier. Dié 13-jarige het verlede jaar die wêreldrekord sewe keer in net vyf byeenkomste na
18,58m verbeter.
Ashley se mikpunt vir 2018 is om die huidige gewigstootrekord van 13,94m na 14m te verbeter asook om ‘n nuwe afstand in diskus aan te teken. Die rekord is 44,3m.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version