Pen in my Hand: Beleef ‘n boeiende aand met skrywer en verteller

Toe die verhaal van Veronica Nagel - eg aan ons streek - so 'n jaar of langer gelede verskyn het, het dit groot opslae onder sommiges wat die karakters geken het, gemaak.

MBOMBELA – Dit is ‘n ware verhaal van ‘n ontsettende onreg wat hier by ons in die apartheidsjare afgespeel het.
Nou is die skrywer van die boek, Alita Steenkamp weer in die Laeveld. So ook Veronica Nagel, vandag Van Vollenhoven, wie se lewensloop sy so boeiend in Veronica: Die kleur van Liefde beskryf het.
Komende Donderdagaand 20 April om 18:00 tree die twee in gesprek by die gereelde Pen in my Hand, boekbesprekings en bekendstellings wat maandeliks deur Laevelder aangebied word. ‘n Vorige resensie lees ten dele so:

“Die lees van Alita Steenkamp se Veronica: Die kleur van liefde het my op twee vlakke geraak. Eerstens is daar die bekende plekke waar hierdie ware verhaal afspeel. Kellysville by Lydenburg en die ou Kliptown en later in Nelsville in Nelspruit/Mbombela – maar ook die groepies hoewebewoners om dorpe soos Burgerfort en nader aan Sekhukuneland.

“Dit was egter die duidelike bewusmaking van die wêreld van die bruingemeenskap in ons omgewing wat my geïnteresseer het. Dis ‘n stuk plaaslike geskiedenis en nie sonder ‘n klomp menslike drama nie. Dit is ook nog nooit behoorlik vertel en opgeteken is nie.“Steenkamp volg die lewe van ‘n Bloemfonteinse sakevrou wat as produk van ‘n gemengde verhouding in die jare van apartheid bitter swaar en sonder eie ouers op plekke in die ou Oos-Tranvaal grootgeword het. Steenkamp, met die hoofkarakter, Veronica van Vollenhoven as verteller – ‘n nooi Mills wat as ‘n Nagel stief grootgemaak is – draai nie doekies om oor die werklikheid nie.”

Kom deel in ‘n seldsame literêr-geskiedkundige aand waar die skrywer en die verteller mekaar weer ontmoet en die leser met die koelbloedige feite gekonfronteer word. Dit beloof om ‘n boeiende aand te wees teen R50 per persoon wat ‘n heerlike ete in ‘n gesellige eetplek insluit. Daar is ook ‘n kontantkroeg.

Bespreek jou plek by A Bica in die Bella Donna-sentrum in Mbombela by 073 329 9238 en betaal by die deur.

Boeke, geteken deur die skrywer en verteller sal te koop wees.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version